Uithouvermoë getoets
2005-09-15
DIE goeie spanwerk van twee Paarliete het hulle dié naweek sukses laat proe tydens ’n 24 uur bergfietswedren.
Chris Smit en Deon de Lange het die mans ope tweeman-afdeling gewen tydens die eerste been van die 24 Uur Nasionale Uitdaagreeks wat Saterdag op Malmesbury gehou is.
Die tweemanskap wat in Animal-kleure gejaag het, het die sirkelroete van 8km op ’n aflosbasis 62 keer voltooi binne die toegelate 24 ure, met elkeen wat 31 rondes afgelê het.
Dit is die tweede keer in soveel weke dat dié twee op die podium gestaan het.
De Lange en Smit was onlangs tweede tydens die Trans-Baviaanskloof 24 uur-wedren.
Spanne van twee of vier ryers moes die 230km van Willowmore na Jeffreysbaai saam aflê.
Die Paarliete het die roete in nege uur en 59 minute voltooi.
Die twee hoop om die sukses te herhaal in die orige twee bene van die uitdaagreeks wat eersdaags in Johannesburg en op Stellenbosch gehou word.
Ander plaaslike ryers het ook goed gevaar op Malmesbury.
Die span van Huguenot Fietse, wat uit Dennis du Toit en Petrus Malherbe bestaan, het derde gekom in die tweeman-mansafdeling, met 44 rondes.
Nog ’n Huguenot-span, Murray Roberts, Mark Bassingthwaite, Sean Szeiman en Christo Toua het die vierman-afdeling gewen deur 76 rondes te voltooi.
In die spannendste kompetisie van die dag, het die Hugenote Paddas-span tweede gekom in die gemengde vierman-afdeling.
Hoewel beide laasgenoemde span en die wenners, Mason’s, albei 73 rondes voltooi het, het die wenners dit bykans sewe minute vinniger gedoen.
In die mans individuele afdeling het die Paarliet, Rian Bezuidenhout, vyfde gekom.
In die Drie Uur afdeling, waar ryers slegs drie ure kry om soveel moontlike rondes te voltooi, het Tanya Rossouw (Mongoose) en Craig Tong (Huguenote) derde gekom in die vroue- en mansafdeling.
More
News
|