Hengelaars katrol goeie vangs in
2010-04-29
DIE Paarl Varswater Hengelklub het onlangs sy derde klubkompetisie van die jaar aangebied by Datona Dam buite Ceres. Die weer het mooi saamgespeel en goeie vangste was weer eens gemaak. Een en dertig hengelaars het die vroegoggend koue van Ceres aangedurf en ’n totaal van 347 visse is gevang. Paul Greyling junior was die beste hengelaar van die dag met 24 visse (totale gewig van 23,31kg). In die tweede plek was Jakes Engelbrecht met 29 visse en in die derde plek was Stokkies Rossouw met 26 visse. Onder die dames het Zandrea van Deventer die beste gevaar met 17 visse. Tweede was Magda Otto met 7 visse en derde Lucy Esterhuyse met 7 visse. Sydney Diedericks is die algehele voorloper ná 3 kompetisies met 149 punte. Phillip Theron (147 punte) en Paul Greyling junior (144 punte) is kort op sy hakke. Onder die dames is Elsa Breytenbach die voorloper met 94 punte, met haar dogter, Bianca, in die tweede plek met (82 punte) en Magriet van Eck in die derde plek (80 punte). Die volgende klubkompetisie is op 29 Mei by die Groenbergdam in Wellington.
More
News
|