Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland bom tref Luiperds

Boland bom tref Luiperds
 
2010-04-29

Jaco van Wyk

DIE Luiperds moes Saterdag gevoel het asof hulle deur ’n bom getref is, veral in die tweede helfte, toe die Kavaliers besluit het om voet neer te sit.

Was dit ’n bietjie ‘Kurt-magic’ wat aan die Boland Kavaliers ’n oorwinning van 30-25 besorg het? Indien wel, kan kaptein Kurt Darren gerus meermale op Boland-stadion kom rugby kyk.

Of het Loffie Eloff sy manne tydens rustyd bietjie voor die bors gegryp, toe ’n nederlaag hulle in die gesig gestaar het? Die rustydtelling was 6-19 in die Luiperds se guns?

Dalk het die tuisspan eenvoudig besluit om almal verkeerd te bewys!

Deesdae word die Boland Kavaliers darem al te maklik afgeskryf.

Oor die eerste helfte wil mens nie te veel gesels nie.

Die Luiperds het reeds in die tweede minuut hul eerste drie gedruk en die Kavaliers het nie regtig soos ’n span gelyk wat bo-aan die Vodacombeker-punteleer geëindig het nie.

Fluit-fluit die storie van die eerste helfte is uit.

Wat rustyd gebeur het, sal net Loffie en sy span weet.

’n Drie in die eerste minuut deur Nikolai Blignaut het suurstof aan die Kavaliers se vonk verskaf, met ’n verwoestende veldbrand die gevolg daarvan.

Aan die voorpunt van dié aanval was die gesoute slot Hottie Louw, wat gespeel het asof dit sy laaste wedstryd was.

Dit was juis Louw wat die bal goed opgevat het, wat gelei het tot Janro van Niekerk se drie.

Die stewige stut het die bal vinnig opgeraap ná Louw se lopie, en perfek by die ‘voorry-reëlboek’ gehou deur kop om laag die doellyn op te soek.

Ná volgehoue druk het Lionel Cornelius gaan druk, ná afloop van ’n pragtige breekslag deur die senter Dewey Swartbooi.

Dié drie het aan die tuisspan die voortou gegee.

Die Luiperds het verwoed teruggeveg en was selfs op ’n kol weer voor op die telbord.

Maar die Kavaliers het die besoekers se poging eenvoudig afgelag.

Dewey Swartbooi se drie was die doodskoot vir die Luiperds en die Kavaliers het ’n plek bespreek in die Vodacombeker-halfeindstryd.

Jacquin Jansen het twee strafdoele en twee doelskoppe bygevoeg.

) Saterdag om 15:00 meet die Boland Kavaliers kragte met Vrystaat op die Boland-stadion, in ’n Vodacombeker-halfeindstryd.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za