Beloftes maak skuld oor arbeiderbehuising
2010-04-29
Sieb Sieberhagen
DIE plaaswerkersbehuisingskema (skema 60) van 300 huise wat langs die Boland krieketstadion in die Paarl beplan word, kom nog steeds nie van die grond af nie. Nóg die beloofde geld vir die infrastruktuur nóg die beplande ontwikkeling wat huise sou verskaf vir plaasarbeiers, het al na vore gekom. Aan die einde van verlede jaar het Boland Krieket en ’n swaargewig-ontwikkelingsmaat- skappy, Rabcav, Drakenstein Munisipaliteit versoek om Boland Krieketstadion in een van die gesogste krieketstadions in Suid-Afrika te omskep. Hulle het ooreengekom dat hulle sal betaal om die dienste in te sit. Maar om dit te doen, gaan hulle die grond moet gebruik wat vir die arbeidersbehuising bedoel is. Die Raad kon die voorstel nie aanvaar as daar nie alternatiewe grond beskikbaar gestel word vir die beloofde arbeiderbehuising nie. “Maar daar het nog niks van hulle kant af gebeur nie,” sê Charmaine Manuel, burgemeester van Drakenstein. Intussen het die Burgemeesterskomitee verlede week besluit om opnuut met die Wes-Kaapse minister vir Behuising, Bonginkosi Madikizela, te onderhandel oor die beloofde R10 miljoen wat vir die infrastruktuur-ontwikkeling gebruik gaan word. Dié geld is glo belowe vir Behuisingskema 60, maar nou wil die Wes-Kaapse regering na bewering niks daarvan weet nie. Boland Krieket en Rabcav se planne sluit A-graad kantoorgeboue in met konferensiegeriewe en suites op die terrein langs die krieketveld in, asook ’n gemengde besigheidspark met B-graad kantoorspasie. Die hele ontwikkeling sou sowat 32 hektaar beslaan, omring deur ’n groen gordel.
More
News
|