Nuwe inisiatief help beginner-sakemanne
2010-04-29
Johan Nel
’n GROOT groep entrepreneurs, voornemende en beginnersakemanne het verlede week die eerste byeenkoms van die Wellingtonse Sakekamer se nuwe inisiatief om beginnersakemanne in die vestiging van hul ondernemings by te staan, bygewoon. Die byeenkoms, wat deur die Sakekamer in samewerking met die Wellingtonse gespreksgroep Oop Gesprek gereël is, het groot belangstelling onder Wellington se beginner-sakelui ontlok. Henk Bruwer, uitvoerende voorsitter van Wynkelders SA, was die spreker op die byeenkoms. Bruwer het aan sakemanne die basiese riglyne geskets wat beginnersakemanne voortdurend in die oog moet hou as hulle ’n nuwe onderneming suksesvol aan die gang wil kry. Volgens hom moet ’n beginnersakeman dryfkrag, waagmoed, selfvertroue en ’n kreatiewe gees hê. Hulle moet ook, voor hulle met ’n onderneming begin, deeglike navorsing doen oor hul mededingers en hul potensiële mark. Hy het gesê dat jong sakemanne vooraf die omvang van hulle finansiële insette moet bepaal, kyk hoe hulle die onderneming gaan finansier en ’n volledige besigheidsplan opstel. ’n Paar van die slaggate waarin beginnersakemanne dikwels trap, is volgens hom té vinnige groei, swak administrasie, swak diens en ’n onvermoë om by verandering aan te pas. ’n Volgende byeenkoms word vir die nabye toekoms beplan en daar sal veral gefokus word op maniere om finansiering vir nuwe ondernemings te bekom asook op die moontlikheid om gevestigde sakemanne as mentors vir beginnersakemanne te laat optree. Die vergadering is ook bygewoon deur ’n verteenwoordiger van Absa-bank wat aanwesiges se aandag gevestig het op die bank se spesiale program vir beginnersakemanne. Chris Booysen, ’n afgetrede bankbestuurder, het die byeenkoms ingelig oor ’n nuwe regeringsinisiatief om klein ondernemings deur die vorming van koöperasies te help finansier. Meer besonderhede oor die Sakekamer se mentorskap-inisiatief kan verkry word by 083-661-8363 en by 021-873-7323.
More
News
|