Buitelander gee pas aan
2005-09-15
DIE Boland Padfietsrykampioenskappe wat Saterdag gehou is, het vanjaar selfs buitelandse ryers gelok.
Die ope-afdeling is dan ook deur die Algeriër, Abdelbasat Hanachi, gewen.
Die deelname van die Afrika-fietsryers was te danke aan ’n uitnodiging aan dié ryers deur die organiseerder Ian Goetham.
’n Groep van 19 Afrika-ryers is tans betrokke by ’n afrigtingskliniek wat deur die voormalige Olimpiese SA-fietsryer, JP van Zyl, in Bellville gehou word.
Die tweede Elite-ryer oor die wenstreep was wel ’n Bolander, Konrad Siebrits, van die professionele Coessa-span.
Kort op sy hakke was Moolman Welgemoed van die Richard Kane-span in Bellville.
Die eerste drie Boland-ryers oor die wenstreep in die Elite-afdeling was Siebrits, Garth Thomas en Durwin Benjamin (aldrie van Coessa).
Thomas wat algeheel sewende geëindig het, kon ’n plek op die podium kry ondanks ’n harde val in die laaste ronde 200m voor die wenstreep.
Die wedren wat oor 110km gestrek het, is in 14 rondes beslis.
Hoewel verskeie ryers vroeg reeds van die bondel probeer wegbreek het, was dit eers halfpad deur die wedren dat ’n klein groepie onder leiding van Hanachi dit reggekry het.
Saam met hom was sy landgenoot Abdelkader Belmokhtar, Thomas, Simon Brown en Moolman Welgemoed, terwyl Chris Willemse Jnr ook later by hulle aangesluit het.
In die naelrit na die lyn was dit egter Hanachi wat die beste daaraan toe was.
Met ’n voorsprong van sowat twee minute voor die res van die ryers, kon Thomas en Belmokhtar wat beide geval het, weer op hul fietse klim en steeds onder die top 10 ryers eindig.
Die enigste junior Boland-ryer wat Saterdag plek kon kry, was Ivano Siebrits van Rhadsport Fietsryklub, terwyl geen veteraan-ryers van dié provinsie deelgeneem het nie.
Die eerste drie plekke in die ouderdomsgroep het gegaan aan Bobby Rodrigues (Vineyard), Jaco Scholtz en Conway Olivier (albei van Outriders).
In die vroue-afdeling het Maties Fietsryklub oorheers met Yolandi Grobler wat die titel neem, gevolg deur haar klubmaats Berlize du Plessis en Stephanie Jansch.
Die eerste drie o.16-Boland ryers was Ryan Fortuin (Yorkshire), Grant Stuurman (Rhadsport) en Garreth Albertus ook van Yorkshire.
In die o.14-afdeling is die Boland medaljes uitgedeel aan Avery Arendse en Aldeno Persent (albei Yorshire) en Clint Hendricks (Rhadsport).
In die o.10/o.12-afdeling het die Paarl Fietsryklub se Emile Jacobs met die louere weggestap, gevolg deur die Rhadsport-ryers, Bradwin Daniëls en Nathan Cornelisson.
Dié twee was ook die top Boland-ryers saam met Eon Benjamin (Yorkshire) in die derde plek.
More
News
|