Oudste wynveiling huldig sy erfenis
2010-05-06
ALTESAME 36 jaar gelede het 15 gesogte Kaapse wyne van vyf wynlandgoedere aan die eerste veiling van seldsame Kaapse wyne by Nederburg deelgeneem. Dié veiling het ’n nederige begin gehad as platform om Nederburg Edelkeur te verkoop. Die klem was daarop om lisensiehouers die geleentheid te gee om toegang te kry tot ’n versameling van die beste plaaslike wyne wat die uitstekende uitbeelding van die kuns van wynmaak in Suid-Afrika, verteenwoordig. Sedertdien maak dié geleentheid steeds ’n impak. Nie net is dit een van die wêreld se vyf vernaamste wynveilings nie, maar hul verwesenlik ook hul doelwit om ’n regverdige verdeling van seldsame wyne te verseker - ’n verdeling wat soveel gedoen het om belangstelling in Suid-Afrikaanse wyne by fynproewers en die publiek aan te wakker, plaaslik en in die buiteland. Volgens De Bruyn Steenkamp, nuwe veilingbestuurder, word ’n paar opwindende veranderinge in vanjaar se formaat beoog. Die veiling vind plaas op 3 en 4 September. Die 36ste veiling bring hulde aan sy ontstaan met ’n verskeidenheid van 153 wyne, insluitende seldsame 1970-oesjare. Kopers sluit dranklisensiehouers, restauranteienaars, kos- en drankaankopers vir hotelle, gastehuise en wildplase, asook supermark-kleinhandelaars in. Hulle sal bie op ’n versameling van wyne van 77 deelnemers, insluitende vyf nuwelinge, wat verskeie handelsmerke, wynlandgoedere en wynkelders, verteenwoordig. Die oorspronklike vyf wynlandgoedere wat by die eerste veiling, amper vier dekades gelede, was - Delheim, Groot Constantia, Overgaauw, Simonsig en Nederburg - word weer verteenwoordig. Vanjaar se deelnemers sluit nuwelinge; Mountain Oaks, Ryk Tulbagh, Seven Oaks, Vrede en Lust en Vilafonté in. Dié toonaangewende spoggeleentheid oor twee dae bied ’n wye spektrum van bekroonde en gesogte Kaapse wyne wat deur die land se talentvolste wynmakers gemaak is, asook wyne wat die streng kriteria van wynmakers, wingerdboere, Kaapse wynmeesters, wynkonsultante en wynbeoordelaars geslaag het. Drie groepe keurmeesters neem deel aan blinde proeë wat deur ’n voorsitter gelei word om die integriteit van die kiesproses te verseker, asook algehele naamloosheid en onpartydigheid.
More
News
|