Wellington uitgeskakel
2005-09-15
DIE eer om die eerste span te wees wat dié seisoen vir Wellington Rugbyklub ’n loesing kan toedien, het Dinsdag vir Shimlas te beurt geval.
Wellington het in die tweede ronde van die Nasionale Rugbyklubkampioenskappe 43-27 teen dié span van die Vrystaatse Universiteit vasgeval.
Die Bolanders het die toernooi Sondag goed afgeskop deur Nelspruit 33-10 te klop.
Wellington het Dinsdag vir bykans 65 minute beheer gehad oor die wedstryd en in dié stadium 27-14 voorgeloop.
’n Skynbare tamheid wat grootliks toegeskryf kan word aan die dag se hitte, het hulle oorval en die Shimlas het met ’n paar vinnige drieë die wedstryd in hul guns geswaai.
Die Vrystaters se skopper wat tot op daardie punt nie ’n wat wonderse dag met die skopskoen gehad het nie, het ook toe beter begin mik.
’n Aantal kritieke hanteringsfoute en die ineenstorting van hul lynstane het die druk op die Wellingtonners verskuif. Shimlas het ses drieë gedruk teenoor Wellington se drie.
Adolf Stofberg (losskakel) het behoorlik uitgeblink met sy taktiese spel en goeie stelskopwerk, wat ’n allemintige strafdoel net duskant die halflyn ingesluit het.
Sy skakelmaat, Gordon Johnson was ook deurgaans midde-in die aksie, terwyl die linkervleuel, Mark Bain, ’n alewige doring in die vlees van die Shimlas-verdedigers was. Hy het dan ook twee keer in die doelgebied gaan kuier.
Voorlangs was dit Frankie Horne (flank) en Nico Smit (agsteman) wat ’n barshou gespeel het.
Horne is dan ook vir die tweede agtereenvolgende keer as man van die wedstryd aangewys. ’n Afgestormde skop vroeg in die tweede helfte het hom dan ook die kans gegee om op die bal te val en sy drie te druk.
Die Maties se 43-27 sege oor die Potchefstroomse Universiteit (Pukke), beteken dat laasgenoemde en Wellington môre om 15:00 teen mekaar te staan kom.
Wellington sal egter ’n volle 80 minute moet speel as hulle die Pukke, verlede jaar se nasionale klubkampioene, wil klop.
More
News
|