'Fountain' soek nuwe naam
2005-09-15
DIT is verblydend dat alle dinge nie noodwendig gegiet is in yster nie, maar dat daar mense is wat soms bereid is om ‘n tweede opinie in te win vir moontlik meer kreatiewe idees.
So sę inwoners van Wellington wat nie te vinde was vir die voorgestelde naam van ‘n beplande ontwikkeling in die dorp nie. Die ontwikkelaar bied nou die geleentheid vir voorstelle vir alternatiewe name vir “The Fountain”.
Hierdie woonstelkompleks en kommersiële ruimte is tans in aanbou aan die onderkant van Fonteinstraat naby die geboue van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
Die ontwikkelaar van “The Fountain” kompleks in Fonteinstraat, Gerrie van Tonder, sę hy is nie getroud met die naam van hierdie ontwikkeling in die hartjie van Wellington nie. Hy sę hy sal met graagte alternatiewe gepaste name oorweeg.
Van Tonder het voorlopig aan “The Fountain” gedink omdat die ontwikkeling in Fonteinstraat geleë is.
Die naamtema sal ook maklik toegepas kon word op die sub-afdelings van die kompleks, soos byvoorbeeld “The Fountain Plaza” vir ‘n oop plaza en “The Fountain Mall” vir die beplande kleinskaalse winkelkompleks.
Daar is skynbare teenkanting teen die verengelsing van die naam omdat daar gesę word dat geen inwoner glo ooit van “Fountain Street” praat nie, maar net daarna verwys as Fonteinstraat.
Fonteine kom natuurlik voor regdeur die loop van die straat, al die pad tot by die vlei in die Perdeskoen.
Daar is onder meer ‘n fontein op die plaas Esperance, een langs Hugenote Hoër se tennisbane aan die kant van Generaal Hertzog Boulevard, en onder die suidelike hoek van Boland Stadion.
Daar was glo ook jare gelede ‘n openbare fontein net onderkant Malherbestraat wat glo die naam “Die Drinkgat” gehad het, waar mens en dier kon water kry. Dit het op ‘n stadium selfs ‘n handpomp gehad.
Hierdie fontein is later toegemaak en die “C-blok” van die destydse Onderwyskollege is daaroor gebou.
Mense wat moontlik ‘n meer gepaste naam vir die ontwikkeling wil voorstel, kan dit saam met ‘n kort motivering so gou moontlik deurgee aan Chantelle de Kock, Die Sekretaris: Erfenis- en Omgewingskomitee, Posbus 1, Paarl, 7620.
Dit kan ook ge-epos word aan chantellek@drakenstein. gov.za, of ingedien word by Marietjie Visser by die Boubeheerseksie in Pentzstraat oorkant die munisipale gebou in Wellington.
* A local building project plans to change its name.
More
News
|