Graf van bekende geskend
2010-05-06
Lise Beyers
DIE Moslem-gemeenskap is geskok nadat die graf van ’n bekende lid van dié gemeenskap verlede week geskend is. Familielede van die gestorwe begrafnisondernemer van Paarl-Oos, Josein Nackerdien, is Donderdag erg geruk toe hulle op sy vernielde graf afgekom het. Die grafsteen en blombakke is stukkend gekap. Nackerdien is twee jaar gelede in die ouderdom van 77 oorlede. Josein se dogter, Shanaaz Nackerdien-Mukadam, het gesê dat sy inderhaas vanaf haar werksplek in Kaapstad na die Parys-begraafplaas gesnel het, nadat sy die nuus ontvang het. “My Ma, Elhaam Nackerdien, het my hieroor geskakel en ek is dadelik Paarl toe. Ek het skoon begin huil toe ek die skade sien. “Ons Moslem begraafplaas word deur die gemeenskap goed versorg uit eerbied teenoor ons gestorwe geliefdes.” Dit is duidelik dat die begraafplaas goed versorg word. Die eenvoudige grafte word netjies gehou en geen rommel of onkruid is om die grafte sigbaar nie. Shanaaz is oortuig dat haar pa se graf spesifiek geteiken is deur vandale, aangesien al die omliggende grafte ongedeerd gelaat is. “My pa was ’n suksesvolle sakeman. Ek vermoed hierdie skade is veroorsaak deur iemand wat jaloers was op hom.”
More
News
|