Nuwe hond snuffel jou kontant
2010-05-06
Lise Beyers
LEDE van K9-Boland het onlangs kennis gemaak met ’n nuwe kollega in die vorm van die kranige kontant-snuffelhond Max. Max is die eerste hond van sy soort in die Wes-Kaap om ’n polisie-uniform aan te trek. Hierdie hond, ’n lid van die Malenois-honderas, is geleer om enige kontant uit te snuffel, maak nie saak waar dit versteek is nie. Hy vind kontant versteek in byna enige plek, in kaste, in binne-panele van voertuie, en selfs begrawe onder die grond. Kontant-snuffelhonde speel ’n belangrike rol om kontant uit te snuffel ná transito-rooftogte, asook in dwelmsake. Dwelmhandelaars sal dikwels groot hoeveelhede kontant in hul wonings versteek. Indien die polisie ’n hofbevel kry om die verdagte woning te deursoek, en al word dwelms nie gevind nie, kan die verdagte diep in die pekel beland as baie geld gevind word en hy nie rekenskap daarvan kan gee nie. Tydens ’n demonstrasie verlede week by die K9-eenheid in Klein Drakenstein, het Max, asook die spanjoelhond Sally vanuit Gauteng, gedemonstreer hoe effektief hulle is. Eers is ’n R100-noot binne een van ses identiese pype geplaas. Sally het binne enkele sekondes die noot uitgesnuffel en hard begin blaf om haar hanteerder se aandag te trek. Met Max se beurt, is ’n geld-noot onder gras begrawe op ’n groot grasperk. Hier het Max die noot ook binne sekondes uitgesnuffel. Alhoewel Max in Kaapstad gestasioneer gaan wees, sal hy te alle tye beskikbaar wees om aan K9-Boland hulp te verleen.
More
News
|