Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gemoedere loop hoog by brand-verhoor

Gemoedere loop hoog by brand-verhoor
 
2010-05-06

Sieb Sieberhagen

WANNEER ’n brandalarm afgaan, is dit nie nodig om onmiddellik die gebou te verlaat nie.

Dít was André van Niekerk, Paarl Print se veiligheidsoffisier, se finale antwoord tydens Dinsdag se ondervraging in die Departement van Arbeid se ondersoek oor die Paarl Print brand.

Die ondersoek na die brand, waarin dertien werkers op 17 April 2009 gesterf het, het Maandag hervat en duur tot Vrydag.

Van Niekerk het dié antwoord gegee nadat Richard Spoor, regsverteenwoordiger van Ceppwawu, wou weet hoe werkers moet optree tydens ’n brand en hoe dit in Paarl Print se noodprosedures omskryf word.

Spoor wou weet of Paarl Print se noodprosedures sê dat jy moet uitgaan as die alarm afgaan.

“Dit sê nie so nie,” het Van Niekerk geantwoord.

Hierdie opmerking en ’n opmerking van Frans Rossouw, fabrieksbestuurder van Paarl Print, Maandag, dat werkers dalk net gestremd kan wees indien ’n brand sou uitbreek en nie sou doodbrand nie, is in die openbare galery met verbasing aangehoor.

Rossouw se antwoorde is ook kort-kort begroet met opmerkings uit die openbare gehoor. Dit het later so erg geword dat die voorsitter van die ondersoek, Tibor Szana, die publiek tot orde geroep het en gewaarsku het dat hy die lokaal sou laat ontruim.

Rossouw, wat in 2007 as fabrieksbestuurder aangestel is, het Maandag gesê dat hy die brandrisiko van die Paarl Print fabriek as baie laag beskou het.

Spoor het in sy ondervraging verwys na die jaarlikse Alexander Forbes risikobepalingsverslag wat sedert 2003 aanbevelings gemaak het dat die Paarl Print fabriek gekompartementeer moet word sodat die verspreiding van brande beperk kon word.

“Dít, asook die installering van ’n brandbesproeiingstelsel, gereelde brandontruimingsoefeninge, ’n voldoende rookventilasiesisteem en die dak-isolasiemateriaal wat ’n brand­- gevaar kon inhou, is deur Alexander Forbes uitgewys, maar julle het nie ag daarop geslaan nie,” het Spoor opgemerk.

“Vir ses jaar het Alexander Forbes julle op die kompartementering van die gebou gewys. So ook die bouregulasies en die plaaslike owerheid, maar steeds het jy die brandrisiko as laag aangeslaan,” sê Spoor.

“Vir ses jaar is dit genoem en steeds is julle besig. In 2008 het Alexander Forbes aanbeveel dat julle vuurkomberse moet installeer met spesifieke verwysing na oliebrande. Het julle dit gedoen?” wou Spoor van Rossouw weet.

Rossouw het geantwoord dat hulle besig was om kwotasies te kry vir die brandbestande roldeure. Hy het ook gesê dat die drie brandblussers wat in die kafeteria aangebring is, as voldoende beskou is.

“Maar die dame wat daar gewerk het, was nie opgelei om dit te gebruik nie,” het Spoor geantwoord.

Volgens die getuienis wat vandeesweek gelewer is, is daar sedert 2007 net een brandontruimingsoefening gehou en is daar een beplan vir 17 April 2009. Dit was die dag toe die brand 13 lewens geëis het.

Getuienis is gelewer dat verskeie vals alarms afgegaan het, maar dat die werkers nie die fabriek ontruim het nie.

Rossouw het deurentyd aan die ondersoek uitgewys dat hy gemaklik was met sy risikobepaling dat daar nie veel van ’n brandgevaar by Paarl Print was nie.

“Ons het in Desember 2008 ’n brand by een van die masjiene gehad en ons was tevrede oor hoe ons dit hanteer het,” het Rossouw gesê.

Uit Spoor se ondervraging Dinsdag van Van Niekerk het dit geblyk dat die brandalarm tydens dié brand en die 17 April 2009 brand, nie afgegaan het nie.

Van Niekerk kon ook nie bevestig of die Desember-brand, soos deur die Wet vereis, ooit by Januarie 2009 se gesondheids- en veiligheidsvergadering bespreek is nie.

Dinsdagoggend het Spoor ’n visuele opname van die brand aan Rossouw vertoon om uit te wys dat die alarm nie gewerk het nie en dat die kompartementering van die gebou nie op standaard was nie.

Dié opname volgens Spoor, het aangetoon dat die brand binne 30 sekondes vanuit die bindery tot in die drukkery versprei het.

Spoor het aan Rossouw gesê dat hy verkeerd was met die lae brandrisiko-bepaling.

“Jy was fundamenteel verkeerd. Jy was 100% verkeerd. Is dit dan so moeilik om te erken dat jy verkeerd was?

“Die werkers het geen waarskuwing gehad nie. Hulle het geen beskerming gehad nie.

“Op die videogreep van die drukkery is gewys dat die eerste waarskuwing iemand was wat verby gehardloop het. En 30 sekondes daarna was alles aan die brand,” sê hy.

Marsen Erasmus, ’n oud-werknemer en een van die gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers, sê dat hy in twee jaar net een gesondheids- en veiligheidsvergadering bygewoon het.

“Ek het twee weke voor die brand versoek dat daar ’n brandontruimingsoefening gehou moet word,” het hy verklaar. Rossouw en Van Niekerk het wel bevestig dat die probleme met die alarmstelsel met ADT opgeneem is.

“ADT het reeds in Januarie 2009 begin om die stelsel te ondersoek en het kort daarna begin om dit te herstel. Op 23 Maart is ons ingelig dat alles reggemaak is.”

Hierop het Spoor gesê datVan Niekerk verkeerd ingelig is en dat die alarmstelsel nie reg gewerk het nie.

* Emergency procedures at Paarl Print were inadequate, according to testimony on the fire,




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za