Terreur aan die hange van Paarlberg
2010-05-06
Lise Beyers
NOG twee aanvalle het die afgelope naweek plaasgevind in gegoede woonbuurte aan die hange van Paarlberg. Die eerste aanval het Sondagaand omstreeks 22:20 plaasgevind by die woning van prokureur Zane Meyer in Non Pareillestraat-Suid. Meyer se aandag is getrek deur die blaf van sy honde. Toe hy na buite gaan om ondersoek in stel, het hy in die donkerte afgekom op drie mans wat op die trappe van sy huis was. “Ek het ’n groot geraas gemaak om vir hulle te probeer verwilder en toe na binne gehardloop en die deur toegeklap. “Hulle is agter my aan met lang messe en het die glas van die deur gebreek om na binne te kom. “My vrou het die geraas gehoor en die diefalarm geaktiveer, waarop die mans gevlug het. “Hulle het klapmusse aangehad en daar is geen manier dat ek hulle kon erken nie.” Meyer het ’n snywond aan sy gewrig opgedoen. Enkele ure hierna, om 01:30, is ’n vrou in Bosmanstraat se aandag ook getrek weens ’n geluid buite haar huis. Sy het by ’n skuifdeur na buite gegaan en is oorval, ook deur drie mans. Een het ’n mes teen haar keel gehou en haar na binne gedwing. Hier ook het ’n familielid wat die struweling gehoor het, die alarm geaktiveer, waarop die mans gevlug het. Hulle het weggekom met net die vrou se handsak. Alhoewel die polisie in beide gevalle vinnig op die toneel was, het die verdagtes spoorloos verdwyn. Omstreeks 04:00 Maandagoggend is daar ’n poging aangewend om by ’n woning in Montreuxstraat in te breek. Die inwoners is wakker geblaf deur hul hond en by nadere ondersoek het hulle ’n kombuisvenster sien oopstaan. Buite is ’n stoel teenaan die venster geskuif. Die vermeende dief of diewe het egter die hasepad gekies toe die inwoners wakker word. * In Wellington het ’n man ’n ernstige beenbesering opgedoen toe hy ’n inbreker agternagesit het. Sakeman Jaco Laubscher van Generaal Hertzoglaan het vroeg Donderdagoggend wakker geword terwyl ’n man besig was om waardevolle items te buit in sy slaapkamer. Hy het die dief agternagesit. Die vermeende dief het by ’n venster uitgespring en Laubscher is agterna, maar hy het sy been op ’n stukkende ruit gesny. Die aanvaller het ontsnap en Laubscher is na MediClinic geneem, waar hy later die dag ’n operasie moes ondergaan om sy beseerde been te heg. Wellington polisie is tans op soek na Joseph Valentine (alias Trane) (28) wie hulle met hul ondersoek kan help. Valentine word terselfdertyd gesoek deur die Departement van Korrektiewe Dienste omdat hy al ’n geruime tyd gelede sy paroolvoorwaardes verbreek het. ’n Woordvoerder van Paarl polisie, kaptein Louise du Plessis, het gesê dat die gemeenskap alles in hul vermoëns moet doen om hulself te beveilig. “Indien ’n geraas buite gehoor word, moet onder geen omstandighede na buite gaan nie. As dit in die nag is, skakel soveel ligte moontlik aan en bel dadelik die polisie. “Maak ook seker dat jy jou bure se nommers byderhand het en skakel vir hulle ook, sodat hulle buiteligte kan aanskakel. “Ons is besig om alle leidrade te volg om hierdie rowers vas te trek.” * More people have been attacked on their properties on the slopes of Paarl Mountain.
More
News
|