Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rusthof sterk aan na brand

Rusthof sterk aan na brand
 
2010-05-06

Lise Beyers

DIE gemeenskap het Saterdagaand ’n groot bydrae gelewer tot die redding van talle bejaardes deur hulle na veiligheid te bring toe ’n verwoestende brand die Rusthof tehuis vir bejaardes getref het.

Maar terselfdertyd het ’n handjie vol skobbejakke die chaotiese omstandighede misbruik om waardevolle besittings van die ouetehuis weg te dra. ’n Rekenaar, televisiestel en gasbottels is onder andere gesteel.

Twee bejaardes, Gert van Rooyen (69) en Lodewyk Jansen (87), is Saterdagaand weens die brand binne die siekeboeg dood, terwyl die tehuis se oudste inwoner, Jacoba Galant (98), Maandagoggend aan haar beserings in Paarl Hospitaal gesterf het.

Nog ’n slagoffer van die brand, Elaine Williams (67), verkeer tans in ’n kritieke toestand in Tygerberg Hospitaal. Haar dogter, Elna Meyer, het gesê dat die familie in kennis gestel is dat hulle hulself vir die ergste moet voorberei.

Jan Geswind sterk aan by Paarl Hospitaal.

Al die slagoffers van die brand was in die siekeboeg toe die brand vroegaand ontstaan het. Dit is glo deur ’n elektriese kortsluiting by ’n dakwaaier in die siekeboeg veroorsaak.

Die waaier het van die dak geval en die res van die vertrek het aan die brand geslaan.

Toe inwoners van Magnolia-woonbuurt die brand gewaar, het talle oor die muur van die tehuis geklim en vensters en diefwering uitgebreek om te help om inwoners na veiligheid te bring.

Die vleuel waar die siekeboeg, administratiewe kantore en stoorkamers is, is grotendeels verwoes. Personeel het wel daarin geslaag om uiters belangrike dokumente te red.

Geskokte bejaardes is na omliggende wonings geneem waar hulle gestabiliseer is terwyl planne beraam is om die meer as 100 bejaardes te huisves.

Sewe verswakte inwoners is by Luthando-verpleegsentrum by Sonstraal-hospitaal gehuisves en Paarlzicht Primêre Skool het sy deure oopgemaak vir die oorblywende inwoners van Rusthof.

Drakenstein Munisipaliteit het inderhaas matrasse en beddegoed gereël en die eerste prioriteit was om die geskokte bejaardes so gemaklik moontlik te maak.

Verskeie ander inwoners is deur familielede ingeneem.

Dringende noodvergaderings is gehou met verskeie rolspelers soos die nooddienste, Drakenstein Munisipaliteit en die Departement van Welsyn om die onmiddellike toekoms van die inwoners te bespreek.

Met die hulp van die brandweer is die afgebrande vleuel afgesper en die res van die gebou is skoongemaak en veilig verklaar vir inwoners om terug te keer.

“Die inwoners wou so gou moontlik na hul eie omgewing terugkeer,” vertel Alvira Kleinhans, bestuurder van Rusthof.

“Hulle is gewoond aan hul omgewing en voel nou meer gerus dat hulle terug is.”

Maandagoggend het dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, saam met verteenwoordigers van die Premierskantoor besoek afgelê by die toneel van die tragedie.

Meyer het gesê dat die eerste prioriteit nou is om vir slagoffers van die brand ’n eerbiedige begrafnis te gee.

“Ons werk ook onmiddellik met die assuransiemaatskappy om die herstel van die gebou so spoedig moontlik aan die gang te kry, sodat alles hiér tot normaal kan terugkeer.”

Meyer het die personeel van Rusthof en die plaaslike gemeenskap geloof vir hul hantering van die situasie en hul welwillendheid.

“Dit is net jammer dat dit so ’n tragedie moet neem voordat ons bymekaar staan.”

Dié departement voorsien tot Vrydag voedsel aan die inwoners van Rusthof, aangesien baie van hul kosvoorraad in die slag gebly het.

Maar vroeg Maandagoggend reeds het talle besighede, waaronder verskeie supermarkte, aan Rusthof se deur geklop met skenkings van voedsel.

“Die gemeenskap van die Paarl het hul harte vir ons oopgemaak,” sê Kleinhans. “Ek raak skoon aangedaan deur al die welwillendheid.”

Drakenstein se burgemeester, Charmaine Manuel, wat kort na die brand die toneel besoek het, het haar dank teenoor die publiek uitgespreek.

“Die gemeenskap van Drakenstein het weer eens bewys dat hulle in tye van nood saam kan staan.

“Talle mense se ongelooflike optrede het sekerlik nog lewens gered. Ons waardeer dit opreg en sê baie dankie.”

Enigiemand wat skenkings wil maak aan Rusthof, kan die tehuis skakel by 021-862-2230.

* Three elderly people died tragically when a fire swept through Rusthof retirement home.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za