Aangrypende uitstalling oor menseregte-vergrype
2010-05-06
Johan Nel
ALTESAAM elf uitsoek-rolprente en ’n aangrypende uitstalling oor menseregte-vergrype is deel van die Holocaust-sentrum van Kaapstad se reisende vertoning wat hierdie week in Wellington besoek aflę. Beroemde rolprente soos die BBC-program The Diary of Anne Frank, Steven Spielberg se aangrypende film Schindler’s List en Roman Polanski se The Pianist word nog tot 9 Mei elke dag gratis in die Breytenbach-sentrum vertoon. Volgens Tracey Petersen, opvoedkundige direkteur van die Holocaust-sentrum in Kaapstad, is die sentrum tans besig om die filmvertonings op ’n toer dwarsdeur Suid-Adrika te neem om veral jong Suid-Afrikaners bewus te maak van menseregte-vergrype wat in die onlangse verlede węreldwyd voorgekom het. Vanaand word Roman Polanski se The Pianist om 18:00 vertoon en Vrydag om 19:00 kom die Australiese film, Rabbit-proof Fence aan die beurt. In dié rolprent word die verhaal vertel van drie jong Aborigine-meisies wat deur die regering van hul moeders weggeneem en in ’n blanke skool geplaas word om hulle voor te berei vir ’n “beskaafde” lewe in die blanke gemeenskap. Hulle ontsnap uit die skool en stap 214 km om weer by hul mense uit te kom. Saterdag word altesaam agt verskillende treffer-rolprente vanaf 09:00 al om die uur tot 19:00 vertoon. Sondag word die laaste rolprent, Sophie Scholl: the Final days, om 14:30 vertoon.
More
News
|