Spinnekop beland vrou in die hospitaal
2010-05-13
Lise Beyers
’n MA van Wellington se droom om KKNK toe te gaan en die Paasnaweek saam met familie te spandeer, het verander in ’n nagmerrie nadat sy deur ’n sakspinnekop gebyt is. Ses weke gelede, op die vooraand van die Paasnaweek, was Wilma Burger oudergewoonte agter haar lessenaar by haar werk as ontvangsdame by ’n eiendomsagentskap in Wellington besig, toe sy ’n skerp pyn voel op haar bobeen. “Ek dog dis net ’n muskiet wat my byt, maar binne enkele minute het die bytplek erg gejeuk. “Dit het al hoe erger geraak. Die bytmerk het opgeswel en begin blou raak. Later was dit so groot soos die palm van my hand.” So is Burger na Medicross waar dr Gideon Pienaar een kyk na die bytplek op haar been gegee het en dadelik besef het dat dit ’n byt van ’n giftige sakspinnekop is. Teen hierdie tyd was Burger koorsig en het in die algeheel nie goed gevoel nie. Haar been was erg opgeswel en het al hoe erger gesweer. ’n Inspuiting en medikasie is aan haar toegedien en sy is vir die aand huis toe. Maar toe daar geen verbetering in haar toestand was nie, is sy weer dokter toe en dié keer is sy gehospitaliseer. Sy is in ’n baie swak toestand by die Paarl Hospitaal opgeneem en antibiotika-druppe is in beide haar arms gekoppel. Toe haar toestand gestabiliseer het, moes die dooie weefsel om die bytplek uitgesny word en daarna is ’n veloorplanting gedoen. “Een positiewe element van my toestand was dat ek die ongelooflike goeie diens van Paarl Hospitaal beleef het. “Die geriewe was uiters skoon en gemaklik en die personeel was heeltyd professioneel en hulpvaardig.” Nä drie weke is Burger ontslaan, maar steeds was sy te swak om terug te keer werk toe. “As dit nie vir die spoedige diagnose van die dokter was nie, kon ek my been verloor het.” Sakspinnekoppe soek graag skuiling in huise, veral in materiaal-plooie van gordyne en beddegoed. Hierdie spinnekoppe is een tot drie sentimeter groot en is pienkerig tot ligbruin van kleur. Hulle gif is so sterk soos dié van ’n pofadder, maar omdat hulle so klein is, is die toediening van die gif relatief min. Maar soos in die geval van Burger, wys dit net hoe gevaarlik ’n byt van hierdie gogga kan wees. * A woman spent three weeks in hospital after being bitten by a sac spider.
More
News
|