BESOEKERS sal vanjaar weer aan interessante aktiwiteite kan deelneem tydens die derde Museum-en-Erfenisekspo wat van vandag tot Sondag in Paarl Mall plaasvind. Sowat twintig erfenisinstellings sal by dié ekspo uitstal.
Dit word deur Paarl Museum en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument gereël ter viering van Internasionale Museumdag (18 Mei). Die tentoonstellings in die hoofgang van die Paarl Mall kan daagliks vanaf 10:00 tot 17:00 (Sondag tot 16:00) besoek word.
Franschhoek Motormuseum se driewiel Mars-Carette wat van 1905 dateer en in 1973 uit Londen ingevoer is, is te sien. Saterdag van 10:00 tot 14:00 kan besoekers eerstehands met ’n babakrokodil kom kennis maak en ’n spesiale program word Saterdag tussen 12:00 en 13:00 in die restaurantarea aangebied met optredes deur Zulu-dansers van Kwazulu-Natal en leerders van Charleston Hill Primêr wat die Diski-dans sal dans.
Paarl Museum sal weer die Soektog-in-’n-Sandbak aanbied waar leidrade en artefakte in die sand bymekaar gepas moet word. By die Taalmuseum en -monument se stalletjie sal besoekers oor die vier dae ’n model van Taalmonument uit klei kan help bou.
Besoekers sal op ’n prettige manier meer oor wyn kan leer en Iziko Museum se bus vol museumartefakte sal ook te sien wees. By die Kaapse Mediese Museum se stalletjie sal besoekers ’n mens se liggaam uit plastiekdele aanmekaar kan sit. Verskeie ander uitstallers sal ook teenwoordig wees.
Kontak 021-872-3441 of 076-017-6026.