Gim draf voor in atletiekkoor
2010-05-13
SESTIEN van Hoërskool Gimnasium se atlete het vanjaar aan die SA Skole en ASA atletiekkampioenskappe deelgeneem. Hulle het in totaal 17 medaljes verower waarvan 7 goud, 7 silwer en 3 brons was. Ná afloop van die byeenkomste het Atletiek Suid-Afrika ’n span van 31 atlete aangewys om die land tydens die Suidelike Streek-Jeugbyeenkoms (15 en 16 Mei) in Gabarone, Botswana, te verteenwoordig. Van die 31 atlete wat vir die Suidelike Streek-Jeugbyeenkoms gekies is, is vyf Bolandatlete. Drie van die vyf atlete is Gimmies. Hulle is Schalk Burger (400mH), Daniël du Toit (SG) en Taahirah Kozain (PS). Schalk Burger het reeds 23 en 24 April aan die COSSASA-byeenkoms in Botswana deelgeneem. Daar het hy ’n silwer medalje in die 400mH verower en in die proses die derdebeste prestasie op die byeenkoms behaal. Jean-Maré Senekal (400mH) is ook gekies om van 20 tot 25 Julie aan die Wêreld Junior Kampioenskappe in Kanada deel te neem. Om in een seisoen 17 medaljes op die SA Kampioenskappe te wen en vier atlete te hê wat jou land verteenwoordig, wil gedoen wees.
More
News
|