Is gate aansteeklik?
2005-09-15
DIE afgelope paar maande was daar talle briewe oor die swak toestand van paaie in die Paarl/Wellington omgewing.
Ek is ‘n nuwe intrekker in Wellington en was tot onlangs toe net ontsteld oor die Paarlse paaie, waar mens selfs die “groei” van ‘n gat in die pad kan monitor soos wat die teer daarom verder verbrokkel as gevolg van die gebrek aan aandag.
Lyk my hierdie siekte is aansteeklik want Wellington se paaie is nou ook besig om deur te loop. My persoonlike opname toon die aantal gate: Fonteinstraat 11, Malanstraat 4, Cumings 3, Nel 3, Blouvlei 2, Berg-en-Dal 2, Kerkstraat 1, Bainstraat 1 (totaal 27).
Hierdie is glad nie ‘n finale totaal vir Wellington nie. Ek sal skat dat hierdie maar net 10% van die paaie verteenwoordig, so as iemand nou regtig elke straat in Wellington moet ondersoek, sal dit my nie verbaas as die finale totaal meer as 100 gate is nie. Met die Paarl ‘n paar keer groter as Wellington, sal die totale gate daar ten minste 200-300 moet wees.
Gate in paaie is immers ‘n eenvoudige probleem vir ‘n munisipaliteit. Ek wonder of iemand eers sy of haar nek moet breek deur te val of ‘n ongeluk moet maak weens so ‘n gat voordat iets daaraan gedoen gaan word.
Met vandag se kreatiewe rekeningkunde, is die munisipaliteit seker van mening dat ‘n R 100 000 mediese rekening goedkoper is as ‘n paar honderd rand vir ‘n gat se herstelwerk (as dit eers so baie is).
Dalk verkoop die munisipaliteit skokbrekers agter die skerms?
Pieter
More
News
|