Paarl steeds onoorwonne
2010-05-13
PAARL RUGBYKLUB is tans die enigste onoorwonne span in die WP Premier A-liga, ná Saterdag se 20-3 sege oor Rangers in Athlone. Paarl het hoofsaaklik die oorwinning te danke aan die goeie spel van die pak voorspelers wat alle vaste fasette beheer het. Paarl se losvoorspelers was meestal eerste by die breekpunte en kon sodoende baie omgekeerde besit bewerkstellig. Paarl se groot uitblinkers was André Coetzee (flank) en Lionel Hugo (agsteman). Agterlangs het Bradley Sias (buitesenter) die teenstanders laat bontstaan met sy kragtige lopies. Elke speler het egter sy kant gebring om die omgesukkelde span van Rangers tot ’n val te bring. Paarl se punte is aangeteken deur Jaco Immelman (heelagter, 1 drie), Coetzee (1 drie) en Louis Schlechter (binnesenter, twee doelskoppe en twee strafdoele). Paarl se tweede span het met 10-18 die knie gebuig, terwyl die derde span met ’n 29-7 oorwinning hul onoorwonne status behou het. Paarl se o.20’s het Vrydagaand vir Helderberg met 44-7 op die Daljosafat-stadion geklop en in die proses sewe drieë gedruk. Dié span vaar besonder goed as hul beperkte spelertal in ag geneem word. Die span oefen Dinsdae en Donderdae om 18:30 op die Boy Louw-velde. Nuwe spelers is baie welkom.
More
News
|