Roses United storm voort
2010-05-13
ROSES UNITED het Saterdag vir Rawsonville Rugbyklub oortuigend met 74-17 geslag, in laasgenoemde se agterplaas. Met dié oorwinning het die Rose hul posisie bo-aan die punteleer van die Boland Premierliga verstewig. Die basis vir Roses se weghol-oorwinning is gelê deur skitterende samespel tussen die voor- en agterspelers, met Rawsonville se swaarder pak voorspelers wat harde bene gekou het teen die Rose se agttal. Martin Nel (haker), Harold Stewardt (loskopstut) en Ignatius Korabie (kaptein en agsteman) het skitterend voorlangs vir die Rose vertoon. Randall Hefca (flank) het ook ’n barshou gespeel. Agterlangs het Brendan April (vleuel) en Manie Adams (heelagter) briljant vertoon. Beide Adams en April het hul teenstanders oorhoops gehad met konstante aanvalle - telkemale vanuit hul eie halfgebied. Ryan Jordaan (senter) het ook die teenstanders laat les opsê met sy skopvoet. Die Rose se skakelpaar, Percival Williams (skrumskakel) en Giovanni Collinse (losskakel), moet ook krediet kry vir die goeie samespel tussen die voor-en agterspelers. Williams was ongetwyfeld die Rose se speler van die wedstryd. Roses se driedrukkers was Brendan April (5), Percival Williams (2), Christopher Adams, Martin Nel, Chezlin Fredericks en Riaan Williams. Fredericks was suksesvol met vier doelskoppe, Williams met drie doelskoppe en ’n strafdoel en Wayne Matthee met twee doelskoppe. Roses United pak eerskomende naweek vir Robertson op Pelikaanpark, Wellington. Die hoofwedstryd begin 16:00.
More
News
|