R52m: Armoede verlig of omkopery?
2005-09-15
DIE afskrywing van oninbare skulde is vir die meeste sakeondernemings standaardpraktyk en word in gevalle gedoen waar alle moontlike stappe gedoen is om die skuld wel in te vorder en dit duidelik gebaseer is op die inligting versamel in die invorderingsproses dat daar geen hoop is om die uitstaande skuld te verhaal nie.
Die Wellington Sakekamer veroordeel daarom die blanko afskrywing van R52 miljoen deur Drakenstein Munisipaliteit, omdat ons meen dat nie naastenby alle moontlike stappe gedoen is om die uitstaande skuld in te vorder nie en hulle geen idee het van skuldenaars se vermoë om wel hul rekeninge te betaal nie.
Die Sakekamer beskik oor verskeie voorbeelde van gevalle waar die Raad geen stappe of ontoereikende stappe geneem het om skuld in te vorder ongeag die skuldenaar se vermoë om te betaal of nie.
Die blanko afskrywing word dus eerstens gesien as ‘n erkenning dat die Raad totaal beheer verloor het oor hul statutêre verpligting om dienstegelde met omsigtigheid te vorder of in die alternatief is dit ‘n duur omkoopgeskenk aan kiesers met die oog op volgende jaar se plaaslike regering verkiesing.
‘n Mens kan maar net wonder of sakelui op die stadsraad so vrypostig met hul eie fondse sou omgegaan het.
Die doel van hierdie afskrywing is dus eerder om dit vir die Raad makliker te maak en die verdoemende getuienis van swak finansiële bestuur onder die mat in te vee.
Die nuwe maatreëls wat aangekondig is, is nie voldoende nie. Voorafbetaalde kragmeters kan omseil word. Aansporingspryse, sonder strafmaatreëls, is nie effektief nie.
Alle gemeenskapsleiers moet mede-verantwoordelikheid neem om die probleem te bestuur. Debiteure-inligting moet maandeliks per wyk gepubliseer word. Probleemareas moet tydig geïdentifiseer word en in samewerking met wyksbesture aangespreek word. Daar moet ‘n middeletoets wees en huishoudings moet advies en hulp ontvang met hul begrotings.
Lyste van alle staatsinstellings, raadsamptenare, raadslede, staatsamptenare en klein/medium/groot sakeondernemings moet saamgestel word en Wanbetalers in hierdie kategorieë se name moet gepubliseer word.
Daar moet deur publikasie van die skuld ‘n bewustheid gekweek word van die belangrikheid van hierdie verpligting. ‘n Mens moenie ongewenste gedrag beloon deur die afskrywing van skuld nie.
Die Raad moet homself ook onderwerp aan ‘n onafhanklike oudit ten opsigte van sy hele kredietbestuurstelsel en voldoende personeel en ander hulpbronne moet toegewys word.
Jan Publiek moet die geleentheid gegee word om wanbetalers aan te meld en tydige stappe moet geneem word. Met ‘n ernstige kredietbeheerstelsel word die armes van die onwillige betalers sal onderskei. Die probleem word dan ‘n gemeenskapsprobleem wat almal raak.
Goeie regering is nie gebaseer op naïwiteit ten opsigte van menslike gedrag nie en ook nie gebaseer op foefies nie. Die alternatief is anargie.
Max van der Wath
More
News
|