TWEE jaar gelede, op 13 Mei 2008, het Huis Cummings afgebrand.Vanjaar, twee jaar later, is die onbedekte mure steeds ’n aanklag. Nie ’n steen is sedertdien verroer om die gebou teen nog ’n vernietigende winter te beskerm nie.
Die gebou behoort aan die Wes- en Suid-Kaapse Sinode van die NG Kerk. Daar word wel agter die skerms gewerk, maar die restourasie gaan miljoene kos, want die gebou was nie genoegsaam verseker nie en dit mag jare duur voor die nodige fondse gevind word.
Intussen kyk Wellingtonnes toe hoe van hul kosbaarste kultuurskatte voor hul oë tot niet gaan.
Die verhaal van die totstandkoming van Huis Cummings is een van die inspirerendste verhale in die geskiedenis van die dorp. Dis ’n verhaal van geloof en hoop; dis ’n verhaal van hoe selfs klein bydraes uit die gemeenskap gehelp het om klip vir klip te bou, waarby die hele gemeenskap ook ten nouste betrokke was.
Die geskiedenis van Huis Cummings is miskien nie aan almal bekend nie.
Die grondleggers van die onderwysinstansies op Wellington, Murray, Bliss en Ferguson, het die droom gehad van ’n “university college in South Africa staffed by women, and intended for the service of women.”
Dit moes saamval met die 25ste verjaardag van die Seminarie in 1899.
Daar was egter ’n belangrike voorwaarde by: die gebou moes sonder skuld geopen word. In 1896 word die hoeksteen van Huis Cummings in die geloof gelê. Die nodige geld moes nog gevind word. Die beraamde koste was £13 000, ’n groot som geld vir daardie tyd.
Die stryd om die nodige fondse begin. Die Regering gee £5000, uit Amerika word £4000 ontvang, van vriende uit Engeland, Australië en Suid-Afrika £2500.
Die Amerikaanse weldoener Goodnow, na wie Goodnowsaal vernoem is, skenk £1000; Andrew Carnegie eweneens £1000.
Wat opvallend is, is dat klein bydraes ook help. Anna Cummings, een van die drie susters wat uit Amerika ter wille van die Seminary Wellington toe verhuis het, begin geld spaar deur op ’n eetstaking te gaan. Sy bly sonder sekere noodsaaklikhede en bank eerder die geld wat sy vir kos sou gebruik het.
In Januarie 1898, ’n jaar later, gebeur die wonder. Die gebou word sonder skuld geopen.
’n Droom van geloof en hoop word verwesenlik - vroue gaan vir die eerste keer in Suid-Afrika hoër opleiding geniet.
As die inwoners van Wellington hierdie verhaal nie ken nie, nie opnuut daardeur geïnspireer word nie, Huis Cummings se lot nie sy eie maak nie, nie hulle stemme laat hoor nie, gaan ’n derde winter verdere verval teweegbring.
Die swye van die gemeenskap is ’n aanklag teen ons, en lei tot verdere verval.
En as dit moet, laat die gemeenskap fisiek betrokke raak. As ’n vorige geslag klippe kon aandra om ’n kerk te bou, wat is verkeerd met die huidige om seile te span en skerms te bou?
Daar is baie voorbeelde van hoe stemme uit die gemeenskap ’n verskil gemaak het, waarvan die plan om die Hoofweg in die Paarl te verbreed seker die bekendste in ons omgewing is.
Vandag is Hoofweg ’n monument waar die omgewing en bewaringaksies ’n verskil gemaak het.
Laat ons hierdeur geïnspireer word. Stemme uit die gemeenskap maak ’n verskil.