DIS met groot teleurstelling asook misnoeë dat ek van ons mooi dorp die volgende ervaar. In Durrstraat loop daar nou al vir ’n paar maande riool uit by twee plekke en dis onwelriekend, asook ’n gesondheidsrisiko.
Ten spyte van vele oproepe asook skrywes van omliggende inwoners het die munisipaliteit nou nog niks daaraan gedoen nie. In Houtstraat loop die riool ook uit by die aansluiting van Timberonstraat.
Ons as omliggende inwoners is nou sat vir hierdie toestand asook die diep gate in Proteastraat. Dis met skaamte dat ek onlangs ’n ompad moes ry sodat my gaste van Namibïe dit nie moes sien nie.
Een van die dae is dit weer Cultivaria en dan moet besoekers ook blootgestel word aan die riool.
Ons as belastingbetalers betaal baie vir dienste. Is dit te veel gevra om ons paaie in stand te hou en die riool van die strate af?
C Payne
May Carolissen, die munisipale woordvoerder, reageer: Ons ingenieursafdeling het die klagte ondersoek en bevind dat daar geen rioolwaterbesoedeling is nie. Daar was wel twee brandkrane wat water gelek het en wat nou herstel is. Naby die hoek van Joubert- en Durrstraat is sugwater wat vanaf die berg uitloop. Dit gee soms ’n slegte reuk af.