Waarvoor betaal ons munisipale belasting? 2010-05-20
TWEE weke lank het munisipale werkers die ongure weer trotseer om die straat op te grawe in La Modestraat, Paarl, vir nuwe kabels, maar toe Vrydag 14 Mei aanbreek, los hulle alles net so en laat waai.
Die los grond wat hul ligweg in die dwarsslote gegooi het, het gou weggesak en/of uitgespoel met die gevolg dat vanaf Vrydagmiddag 13:00 die motors gestaan en karring het om die gapende slote te oorbrug. Saterdag en Sondag is nog meer skokbrekers beproef.
Vrydagmiddag net ná 14:00 het ek 021-807-4500 geskakel en gevra vir die ingenieur in bevel van strate maar hy is nie daar nie en ek word net getrakteer op musiek.
Toe besoek ek die Ingenieurs-afdeling waar ek weer die situasie verduidelik het aan die “ingenieurs” daar, wie my beveel het om by die ontvangsdame die klag in te dien.
Hulle het darem op my versoek ’n gevaarteken aangebring by één van die drie uitgekalwerde slote wat teen Sondag angswekkende afmetings aangeneem het. Maar nog was dit het einde niet.
Saterdagmôre ongeveer 09:30 het my huis se krag afgegaan. Ek het van 10:30 heel dag die kragonderbrekingsnommer 021-872-2557 geskakel, maar dit bly onbeantwoord. Ek het glad radeloos die brandweer se noodnommer 021-872-2323 geskakel, maar dit het op faks gegaan! Sondagmôre antwoord ’n dame dieselfde nommer wat Saterdag net gelui en gelui het, en vra sowaar waarom ons nie eerder gebel het nie!
Teen 13:00 is die krag op die paal darem herstel - dankie tog daar was nie ’n brand nie! Die munisipaliteit stel ons erg teleur.
S RedelinghuysDie munisipale skakelbeampte, May Carolissen, reageer: ’n Privaatkontrakteur is opdrag gegee om die kruising te teer. Hy het dit gedoen maar die gehalte van sy werk was swak en ons het opdrag gegee dat hy die teer uithaal en oordoen. Hy het Vrydagoggend 14 Mei sonder ons wete die teer uitgehaal en teen etenstyd verdwyn sonder om die nuwe teer aan te bring. Ons is baie jammer oor die ongerief wat dit veroorsaak het vir die mense wat die pad gebruik. Ons het reeds ’n proses in plek om teen die kontrakteur op te tree. Die telefoonklagte van Saterdag kan toegeskryf word aan ’n hoë oproepvolume wat deur ons Beheersentrum hanteer moes word weens die reën. Ons wil weer eens verskoning aanbied en sal probeer om verbetering aan te bring.