DIE foto op die voorblad van verlede week se Paarl Post van die ongeluk waarin ’n baba dood is, het my met skok en terselfdertyd met hartseer vervul. Dis iemand se kind, iemand se kleinkind.
Wanneer gaan die wette en padreëls dan ooit gehoorsaam word en hoeveel onskuldige kinders moet nog op ons land se onveilige paaie sterf?
Ek voel net ek moet hierdie brief skryf dat ouers kan besef hoe kosbaar hulle kinders se lewens is en hoe maklik ’n ongeluk kan gebeur.
In Kanada het ek gesien hoe streng wetgewing ten opsigte van die veiligheid van kinders in voertuie is. Tot op nege maande mag ’n baba net op die agterste sitplek met gesig na agter vervoer word, stewig vasgegespe in sy babastoel. Daarna mag hy met die gesig na voor vervoer word, maar nooit voor nie.
Daagliks sien ons hoe kinders los in motors vervoer word, hoe paneelwaens en bakkies vol kinders heen en weer vervoer word. Baie se verskoning is dat dit net tot by die huis of skool is.
Hoekom vir afdwing van wetgewing wag as ’n mens net gesonde verstand hoef te gebruik?
Baie bekommerde ouma
Wellington