Swaar straf
2010-05-20
MET die toename in rooftogte, inbrake en geweldsmisdade wat die gebied teister, moet die hof verseker dat die gemeenskap nie vertroue verloor in die regspleging, polisie en vervolgingsgesag nie. En dit is onlangs bewys toe misdadigers swaar gestraf is in sake in die Paarl Streekhof. Landdros Patrick Ross het verlede week 30 en 45 jaar gevangenisstraf opgelê aan twee mans wat aangekla was van ’n wrede plaasaanval verlede jaar. Dalikhwesi Kweza (25) en Mzwabantu Maphutuma (26) is verlede jaar in hegtenis geneem nadat ’n gesin op La Motte-plaas buite Franschhoek aangeval is. Die familie is met messe gedreig en ’n babaseun van 14 maande is so hard gegooi dat sy arm gebreek is. Die mans het ontsnap, maar is na noukeurige ondersoek deur speurders van die Franschhoek polisie in Langrug plakkerskamp aangekeer. Kweza, wat op La Motte-plaas gewerk het, is tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis, en Maphutuma is met 45 jaar gestraf. * In nog ’n saak, is André Jacobs van Wellington toegesluit vir 15 jaar nadat hy twee skoolmeisies beroof het van ’n selfoon.
More
News
|