Swart naweek op Wellington paaie
2010-05-20
Lise Beyers
’n STUDENT van Wellington is die afgelope naweek tragies oorlede in ’n motorongeluk, op die vooraand van sy ma se troue. Christiaan Jonker en Phillippus Giliomee, albei 19, was Saterdagaand saam met vriende in ’n gewilde kuierplek in Kerkstraat in Wellington. Volgens vriende is die twee ná middernag saam daar weg, maar niemand kon sê waarheen hulle onderweg was nie. Dit is die laaste dat enigiemand hierdie twee landboustudente aan CPUT lewend gesien het. Enkele ure later, om 04:00 is albei dood in ’n noodlottige ongeluk op die Bo-Hermonpad, sowat 5 km buite Wellington. Die bestuurder van Jonker se Mazda Drifter bakkie het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor, waarna die motor by ’n wal afgerol het en tussen bome ingejaag het, digby die Soetendal-begraafplaas. Die kajuit van die bakkie is deurdring deur boomtakke en albei jong mans is op slag dood. Jonker se pa, Adolph, is byna drie jaar gelede ook in ’n fratsogeluk dood, terwyl hy saam met een van sy seuns op ’n waterponie gery het op die Breërivier naby Bonnievale. Hy het die kabel van ’n foefie-slide nie raakgesien nie, en is daardeur teen die keel getref. Hy is op die toneel dood aan ’n nekbesering. Adolph was ’n gesiene boer van Bonnievale en ’n direkteur van Mooiuitsig-wynlandgoed. Hy is ’n familielid van die voormalige voorsitter van die KWV, Lourens Jonker. Christiaan se ma, Olive, word Saterdag in die huwelik bevestig met Springbok-rugbylegende, Balie Swart. Christiaan is gister vanuit die NGK Bonnievale ter ruste gelê. Phillipus, van Heidelberg, is ’n oud-leerder van Hoër Landbouskool Oakdale. Sy begrafnisdiens vind Saterdag om 11:00 in die NGK Heidelberg plaas. * In nog ’n gru-ongeluk is ’n man etlike kilometer vanaf hierdie toneel ook in motorongeluk dood. Drie mense van Malmesbury was Sondagoggend omstreeks 07:00 onderweg na Wellington op die Hermon-pad toe die ongeluk plaasgevind het. Die bestuurder van die motor het glo beheer oor die voertuig verloor waarna die motor gerol het en in ’n sloot beland het. Sibongile Gqalaqha is op slag dood. Die ander twee insittendes het verskeie beserings opgedoen. * Three people, including two students from Wellington, have tragically died in motor-vehicle accidents.
More
News
|