Moenie met haar lol
2010-05-20
Lise Beyers
GENOEG is genoeg. Dit was polisiekaptein Lourika Nel se reaksie nadat haar handsak in die Paarl Biblioteek gesteel is. “Ek was nie bereid om net nog ’n onopgeloste statistiek van misdaad te word nie en was vasberade om terug te baklei.” Op Saterdag 17 April het Nel besoek afgelê by die biblioteek saam met haar kinders. Die een oomblik was haar en haar dogter se handsakke op ’n tafel, maar terwyl hulle vir enkele oomblikke weggedraai het, is haar handsak gesteel. “Alles was in my handsak - my selfoon, beursie en selfs my motorsleutels. “Ek het dadelik begin rondkyk en vir die bibliotekaresses gevra of hulle ’n verdagte persoon gesien het, maar hulle was baie besig. “Die Paarl Biblioteek het anders as Mbekweni en Paarl-Oos Biblioteke, geen sekuriteitskameras nie.” So het Nel die polisie ontbied en die bosse buite die biblioteek begin fynkam vir enige teken van haar besittings. Uiteindelik is sy moedeloos huis toe saam met haar man, maar die volgende dag is hulle weer na die omgewing van die biblioteek en het weer oral gesoek. “Ons het selfs in vullisblikke gesoek in Lady Greystraat.” Maar alles was tevergeefs. Haar hoop het wel later die dag opgevlam, toe sy ’n oproep van ’n vrou ontvang het wat haar in kennis gestel het dat sy twee kredietkaarte van haar in Thomstraat opgetel het. “Ek was vasberade om nie die saak net daar te laat nie. “Omdat ek my foon reeds geblok het, het ek besef dat ek die foon deur middel van die polisie wel tegnologies kan laat opspoor. Maar dit kan slegs gedoen word as die foon nie geblok is nie. Dus het ek my selfoon weer aktief laat maak.” So het haar speurwerk gelei na ’n informele woning in Mooiwater, Franschhoek, waar ’n buitelandse inwoner erken het dat sy die foon het, maar sy het dit glo gekoop by MultiCell in Lady Greystraat, Paarl. Hierdie winkel was haar volgende stop in haar vasbeslote poging om die handsakdief vas te trek. “Ek het aangedring dat hulle my bewyse lewer van die aankoop en die verkoop van die selfoon. Hierop het hulle gewik en geweeg en ons gevra om die volgende dag terug te kom, aangesien hulle dit nie kon vind nie.” Nel is toe terug na die winkel en daar word toe aan haar ’n verkoopstrokie getoon van R700, vergesel met ’n ID nommer. Nel gebruik toe weer eens haar polisie-ervaring en sy spoor die eienaar van die ID nommer op tot in Paarl-Oos. Polisieversterkings is ingeroep, en ’n vrou, Harriet Noah, is in hegtenis geneem in verband met die gesteelde handsak. ’n Handsak en twee selfone is by Noah gevind wat glo ook by Paarl Biblioteek gesteel is. En so is Lourika herenig met haar selfoon en heel tevrede met haarself dat die dief agter tralies beland het. Maar steeds het sy baie vrae oor die insident. “Paarl Biblioteek sal beslis iets moet doen oor hul sekuriteit. Ek is nie die enigste een wat ’n slagoffer van misdaad hiér geword het nie. “Ook, obskure selfoonwinkels soos MultiCell, moet deur die polisie van nader dopgehou word. Die vrou wat my selfoon daar verkoop het, het dit gedoen met haar man se ID dokument. Hoe kon die eienaar nie sien dat dit nie aan haar behoort nie? “As instansies nie gesteelde goedere koop nie, sal daar sekerlik minder diefstalle wees. “Die publiek moet ook kennis neem dat dit vir die polisie moontlik is om selfone op te spoor met die hulp van tegnologie. Die publiek moet aandring dat dit gedoen word.” ’n Woordvoerder van Drakenstein Munisipaliteit het gesê dat Mbekweni en Paarl-Oos biblioteke hoërisko-gebiede is, dus is daar kameras geïnstalleer. “Biblioteke kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir die diefstal van klante se persoonlike besittings wat onbewaak gelaat is nie.”
More
News
|