Akademie spring hoogtes in
2010-05-20
MET sy aankoms in die Paarl vyf jaar gelede, het Louis Nienaber besluit om sy passie en kennis van paalspring te deel met junior atlete van die Boland. Die gevolg was die stigting van die Boland Paalspring Akademie, wat deesdae een van Boland Atletiek se grootste suksesverhale is. Daar is tans 25 atlete wat hul afrigting by Nienaber en sy seun Jan-Louis ontvang. En hoekom sal die akademie dan nou nie sukses behaal nie? Nienaber, ’n voormalige SA junior paalspringkampioen en meesters-paalspringer (hy is ’n rekordhouer op meestersvlak), het oor die jare talle provinsiale en nasionale atlete opgelewer. Nienaber het ook vir Ockert Brits, wat elke denkbare rekord verpletter het, op skoolvlak afgerig. Die akademie se lede neem ook jaarliks toe, tot so ’n mate dat Nienaber onlangs tydelik van oefenveld moes verhuis. “By Hoër Jongenskool het ons net een baan en mat gehad om op te oefen. Nou, by Hoërskool Gimnasium het ons twee bane langs mekaar, wat oefeninge heelwat makliker maak,” sê Nienaber. Top paalspringers het in die laaste drie jaar uit dié akademie geheers, met Taahirah Kozain die mees onlangse springer om ’n SA-span te haal. Kozain gaan op 22 Mei Suid-Afrika verteenwoordig in die Suid-Streek Jeugkampioenskappe te Botswana. “Die akademie se enigste dilemma is egter die weer, want dit kortwiek die nodige oefening en voorbereiding voor groot toernooie,” sê Nienaber. “Die Kaap se weer regverdig binnenshuise fasiliteite en as gevolg van die internasionale seisoen moet atlete deur die winter voorberei. Dit is ook die ideale tyd om met beginners die grondslagfase te lê.” Nóg ’n springer wat by Nienaber oefen, Monique Janse van Noordwyk, moet in Junie net haar beste tyd ewenaar om in die Nasionale span opgeneem te word wat in die Afrika kampioenskappe gaan deelneem. “’n Groot stoor sal dus ideaal wees om in te oefen as dit reën,” sê Nienaber. Volgens Nienaber beskik die Paarl Paalspring Akademie oor 150 pale, en is dit die klub in die wêreld met die volledigste reeks pale. Al die pale behoort aan Nienaber, wat hy oor die jare opgebou het. * Die Boland Atletiek Paalspring Akademie se prestasies tot dusver vanjaar, is soos volg: By die SA Jeug kampioenskappe het Taahirah Kozain (1ste), Kulthoom Gaidien (2de) en Nadia Giliomee (3de) medaljes in die dogters-afdeling verwerf en Albert Korf (2de) het ’n medalje in die mans-afdeling verwerf. Tydens die ASA junior kampioenskappe het Christiaan Norman brons gewen en tydens die SA seniors was Johan du Plessis eerste onder die mans en Monique Janse van Noordwyk tweede onder die vroue. Sors Joubert was die SA tienkampkampioen, waar hy ook die paalspring-item gewen het. Tydens die SA skole kampioenskappe het Kulthoom (1ste), Nadia (2de) en Huibré Aries (3de) medaljes verower, terwyl Albert tweede was in die seuns o.17-afdeling en Samuel Palliseur tweede in die seuns o.19-afdeling.
More
News
|