Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hoekom kry rykes se kinders beurse?

Hoekom kry rykes se kinders beurse?
 
2010-05-27


ONS was onlangs by die beursuitdeling van die Athlone Trust. Ek wil eerstens net baie dankie sê vir die goeie werk wat die Athlone Trust doen. Wat my egter bekommer is die feit dat soveel studente beurse gekry het wie se ouers kan bekostig om hulle universiteitsgelde self te betaal.

Volgens die voorsitter was daar ongeveer 160 aansoeke en hulle kon net 70 beurse toestaan.Wat van die kinders wie dit regtig nodig het? Nee mense, dink aan daardie kinders ook.

Dié van julle wat dit kan bekostig om julle kinders te laat studeer, moes nie eens aansoek gedoen het nie. Ek persoonlik dink dis net inhaligheid van julle wie dit kan bekostig.

Ons is hier om mekaar te ondersteun, maar daar is van ons wat nog van die armes ook wil vat. Ek hoop van harte dat julle nie weer volgende jaar sal aansoek doen nie.

Ontevrede

Basil Gabriels (voorsitter van die Athlone Instituut Beursprojektekomitee) reageer namens die Athlone Instituut Beursprojektefonds: Die Komitee neem met opregte dank kennis van u korrespondent se waardering vir die werk wat die Komitee doen.

Die aansoeke om finansiële bystand word elke jaar met groot verantwoordelikheid en deursigtigheid deur die Komitee gehanteer.

Die uiteindelike individuele toekennings word eweneens gemaak ná die afhandeling van ’n deeglik gestruktureerde en deursigtige proses - geen aansoeker word in enige opsig bo ’n ander een bevoordeel nie.

Alle toekennings word suiwer op meriete gemaak, ooreenkomstig die voorskrifte van die grondwet van die fonds en die statute van die Athlone Instituut Trust.

Daar moet ook onthou word dat aansoekers slegs oorweeg kan word as hulle aan vasgestelde kriteria voldoen en die normale seleksieprosedure, soos by implikasie hier onder genoem word, deurgemaak het:

• ’n Aansoeker moet in sy/haar laaste studiejaar, voor die jaar waarvoor hy/sy om finansiële bystand aansoek doen, GESLAAG het (matrieks moet ’n groottotaal van minstens 950 punte behaal het);

• Slegs aansoekers wat in die Paarl of Mbekweni woon, OF ’n goedstaande lid van ’n lidkerk van die Athlone Instituut Trust is, word oorweeg;

• Slegs aansoekers wat aan ’n geakkrediteerde inrigting vir ’n geakkrediteerde kursus ingeskryf is (goedgekeur deur die Nasionale Raad van Hoër Onderwys), word oorweeg.

• Die akademiese rekord van die aansoeker moet bewys dat hy/sy nie potensieel ’n finansiële risiko vir die Athlone Instituut Trust inhou nie.

Aansoekers word dan genooi vir ’n persoonlike onderhoud wat in berekening gebring word wanneer die finale toewysing aan ’n kandidaat gemaak moet word.

Dit moet ook verder onthou word dat dit die demokratiese reg is van plaaslike studente om aansoek te doen vir finansiële bystand.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za