KAPTEIN Nel, veels geluk met jou uitmuntende deursettingsvermoë!
Was omstandighede anders, sou ek u nog meer lof toesing oor die optrede om jou gesteelde selfoon terug te kry.
Ek is ook beroof - juwele, selfoon, broadband ens, maar ten spyte van my buurman wat die verdagte herken, gejaag het tot by sy grootouers se huis, en die aanwysings gegee het aan die konstabels wat by die toneel opgedaag het, is daar nog geen taal of tyding (anders as ’n saaknommer) wat ons van die polisie hoor nie.
Groot is my verbasing dat ons streek se polisie oor die fantastiese tegnologie besit om selfone na te speur, maar ek skat dis seker nie vir een en elk om te gebruik nie.
Moontlik kan jy aan die speurder wat ons saak “ondersoek” (het hom nog nie onder oë gehad nie), so bietjie touwys maak met die tegnologie.
Ek wil net graag vra, voor jy so vinnig te vertelle het hoe jy jou werk se tegnologie aangewend het om jou eie besittings na te spoor, of daar dieselfde toegewydheid aan die dag gelę word vir die ander van ons, wat onder dieselfde misdaad-epidemie gebuk gaan.
Maar in elk geval - weer eens veels geluk!
Wonder net