Rugby-flitse
2010-05-27
EVERGREENS KLOP UNIVERSALS
Evergreens het Saterdag vir Universals van Hopefield op hul neuse laat kyk met ’n 30-23 sege. Evergreens se driedrukkers was Niklaas Barends, Samuel Jacobs, Niel Julies, Brian Bester en Eugene Andries. Randall Geldenhuys het geslaag met een strafdoel en ’n doelskop. Evies II het 20-0 gewen en Evies III het 10-16 vasgeval.
NEWTONS TRAP VOORLOPERS
Newtons Rugbyklub het Saterdag die huidige ligavoorlopers, Mamre Rugbyklub, met 23-18 verslaan. Die rustydtelling was 11-8. Met dié oorwinning is Newtons die naasvoorlopers, met Mamre steeds die voorlopers. Newtons RFC se driedrukkers was Randall April (senter), Jacquin Ruthford (agtsteman) en Randall Fourie (skrumskakel). Ander uitblinkers was Tyron Baron (heelagter) en Herchelle April (flank). Saterdag speel Newtons weg teen Malmesbury. Die bus vertrek 11:00 vanaf Chrystal Supermark teen R40 pp.
PNIEL VILLAGERS KRY SLAE
Die span van Pniel Villagers het Saterdag weer vasgeval, dié keer in ’n wegwedstryd teen Primrose met 15-41, met laasgenoemde se 20-jarige losskakel, Junaid Giertien, wat 26 van sy span se punte aangeteken het. Pniel het verskeie geleenthede gehad om punte aan te teken, maar gebrekkige besluitneming het hul pogings gekelder. By die afbreekpunte is Pniel dwarsdeur die wedstryd herhaaldelik gestraf, wat die tuisspan die geleentheid gegee het om die telbord aan die rol te hou. Pniel se driedrukkers was Wade Stubbs en Melrick Thomas. Stefanus Cedras het met ’n doelskop en ’n strafdoel geslaag.
YOUNG PEOPLES VAL VAS
Young Peoples het Saterdag die knie gebuig teen Bellville. Die finale telling was 26-55, nadat Bellville rustyd met 26-9 voorgeloop het. Peoples se drieë is gedruk deur Lorenzo Abelse en Garth Lewis. Dimitri Cupido het 2 doelskoppe en 4 strafdoele behaal. Saterdag speel Peoples weg teen Primrose.
More
News
|