Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hoop vir riviere op Wellington

Hoop vir riviere op Wellington
 
2010-05-27

Johan Nel

BYKANS veertig inwoners van Wellington het onlangs deelgeneem aan ’n vergadering oor die toekoms van die drie riviere wat deur die dorp vloei.

Die vergadering is ook bygewoon deur amptenare van die Drakenstein Munisipaliteit, die nasionale departemente van Omgewingsake en Ontwikkeling, van Waterwese en ook van Aurecon, die konsultante wat deur Drakenstein Munisipaliteit aangewys is om ’n opname van die stand van die riviere in en om Wellington te maak.

Volgens Johann von Wielligh, stadsraadslid van wyk 2 in Wellington, het die vergadering lewendig, positief en opbouend verloop – ondanks die feit dat die riviere toenemend probleme vir die inwoners van die dorp begin skep het en dat baie inwoners begin glo het dat die riviere in die komende winter ernstige vloedskade gaan veroorsaak.

“Inwoners se frustrasievlakke oor die bestuur van die drie riviere het oor die afgelope twee, drie jaar skerp begin styg. Ondanks vloedskade en ernstige opslikking was amptenare traag om terugvoering aan inwoners te gee oor maatreëls om die probleme aan te spreek.”

“Die deursigtige wyse waarop die konsultante van Aurecon die probleme oopgemaak en aan almal die geleentheid gebied het om daaroor te praat, het die hoop laat opvlam dat die stadsraad en die inwoners van Wellington voortaan sáám drie potensiële probleem-riviere in bates vir ons dorp gaan omskep.”

Probleme wat op die vergadering opnuut deur inwoners onder die aandag van die owerhede gebring is, sluit in die feit dat die Spruitrivier in die middedorp gebruik word as ‘n plek waar dwelms en drank verkoop word omdat die rivier op sekere plekke nie behoorlik afgekamp is nie; die feit dat inwoners onseker is oor die bepaling dat oewerbewoners verantwoordelik is vir die koste om rivierlope op hul grond skoon te hou; dat oewers plek-plek wegspoel as gevolg van bouwerk langs die rivierlope; en dat opslikking van die rivierlope en omgevalle bome en struike die afvloei van water in die winter belemmer.

Inwoners is ook opnuut daarop gewys dat die plaaslike owerheid eers toestemming by die departemente van Waterwese en van Omgewingsake moet kry voordat enige veranderings aan die rivierlope aangebring kan word.

Indien bestaande noodwalle deur vloedwater beskadig word, kan dit herstel word sonder om op toestemming van die staatsdepartemente te wag, maar die departemente moet agterna van die herstelwerk in kennis gestel word.

Die oewereienaars het ook gevra dat daar groter duidelikheid gegee moet word oor die bepaling dat oewereienaars finansieel verantwoordelik is vir werk wat op hul grond aan rivieroewers gedoen word.

Planne oor hoe ernstige probleme rondom die beveiliging van oewergrond op deursigtige wyse aangepak gaan word en hoe werk aan die rivieroewers deur die Munisipaliteit en die oewerbewoners in die toekoms gefonds gaan word, sal nou uitgewerk en bespreek word.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za