Boewe bo bankiers
2010-05-27
MET die onlangse toename in elektroniese bedrog, blyk dit dat elektroniese boewe baie slimmer geword het as bankiers. Onlangs het talle Paarliete swaar gesluk toe hulle agterkom dat duisende rande uit hul bankrekenings verdwyn het. Conradie Burger is maar net een so ’n slagoffer wat op die vooraand van Kersfees duisende rande weens hierdie tipe bedrog verloor het. Die nagmerrie het begin toe hy in Desember by sy bank, Absa, geregistreer het vir internetbankdienste. “Twee dae later het ek ’n epos ontvang oor internetsekuriteit wat my gevra het om my rekeningnommer en PIN kode (persoonlike identifikasie nommer) te verifieer. “Ek het ’n fout begaan om dit te verskaf en oënskynlik hiér in ’n strik getrap.” Dieselfde dag het duisende rande sonder waarskuwing uit sy rekening verdwyn. Die saak is dadelik aan Absa gerapporteer en Burger is van bakboord na stuurboord gestuur by dié bank. Absa se eie ondersoek het wel daartoe gelei dat hulle die rekening kon opspoor waarheen ’n sekere bedrag oorgeplaas is. Hierdie bedrag is wel aan Burger oorbetaal, maar steeds sit hy met ’n verlies van ’n hele paar duisend rand, asook meer vrae as antwoorde. “Absa het steeds nie my vrae beantwoord nie: Hoe kon die bedrieërs toegang tot my rekening kry sonder my geheime kode. Ook het ek nie SMS boodskappe gekry oor dié aktwiteit in my rekening nie. “En die belangrikste is, hoe kon die bedrieër meer as my daaglikse limiet uit my rekening trek?” Volgens Absa is hulle nie aanspreeklik vir Burger se verlies nie, weens die feit dat hy die valse epos beantwoord het en sy PIN verskaf het. Hulle weier dus om Burger te vergoed. Maar Burger is nie bereid om die saak daar te laat nie. Hy het Absa aangekla by die waghond vir bankdienste, die Ombudsman. “Op hierdie stadium is ek lus om op te hou om my erflening by Absa te betaal, weens hierdie bank se swak houding teenoor hul kliënte, en hul weiering om my te vergoed. “Die bank kan ook dan voel hoe voel dit om geld te verloor.” Burger is nie die enigste een wat onlangs deurgeloop het nie. Kort ná die Paasnaweek is Heather Perry stomgeslaan toe sy op die skerm sien hoe haar geld letterlik voor haar oë uit haar Standard Bankrekening verdwyn. “Ek dog ek sien dinge. In totaal is drie transaksies op my bankrekening uitgevoer sonder my medewete.” R500 is gebruik vir selfoonlugtyd, ene Ram Sam is R5200 betaal en JS Tsotese R1050. Perry se probleme het egter begin toe sy kort voor dié fiasko ’n oproep ontvang het van iemand wat sy geglo het ’n bank-beampte was. Sy moes persoonlike besonderhede verskaf om haar tjekrekening op te gradeer. En so het bedrieërs waarskynlik daarin geslaag om toegang tot haar bankrekening te verkry. Hulle het selfs daarin geslaag om haar persoonlike besonderhede te verander. Na die onreëlmatige bedrywighede op haar rekening is sy ook van een bank-beampte na die ander gestuur en met min antwoorde gelaat. Nog ’n man van die Paarl is R10 000 kwyt, ook weens elektroniese diefstal. Bernie van der Merwe het onlangs ’n elektroniese bankstaat aangevra by ’n OTM by Standard Bank in Lady Greystraat. Toe dit sy beurt was by die kitsbank, het hy gesukkel om die kaart binne die gleuf te kry, en ’n man het aanhoudend aan hom gestamp en gestoot. Kort hierna is geld uit sy lopende rekening en kredietkaart getrek. Nog ’n Paarliet, wat anoniem wil bly, het byna R50 000 verloor, nadat hy ’n skakel op sy rekenaar gevolg het wat juis internetveiligheid bevorder het. Hy het ’n epos ontvang wat gelyk het asof dit vanaf Absa-bank afkomstig is. Dit het gewaarsku teen bedrog en hom aangemoedig om na ’n webblad te gaan waar al die waarskuwings duidelik uitgelê sal word. Die webblad het volgens hom presies gelyk soos dié van Absa. Hy is gevra vir sekere besonderhede, maar nadat hy dit ingetik het, het die blad verdwyn. Hierna kon hy nie weer toegang kry tot sy rekening nie en intussen is geld uit sy rekening getrek, sonder dat sy bank onraad vermoed het. Nadat hy ook ure spandeer het om hulp van sy bank te kry, het een beampte uiteindelik aan hom gesê, “Jammer, maar ons kan jou nie help nie, dit was jou fout.” Dié rekeninghouer, wat reeds 49 jaar by hierdie spesifieke bank sake doen, is hieroor woedend. Daar is talle internet-, asook selfoon-bedrogspulle wat rekeninghouers uitlok om sensitiewe inligting te verskaf. En by OTM’s plaas bedrieërs gesofistikeerde kaartlesers of klein digitale kameras om verbruikers se geheime PIN-kode te bekom. Hierdie masjientjies word eenvoudig verwyder en gewapend hiermee kloon boewe hul eie kaarte op jou naam. Maar wat is die antwoord as misdadigers dit regkry om banke se beweerde hoë sekuriteit te oorskry? Banke is baie huiwerig om inligting hieroor te verskaf, behalwe om verbruikers aan te raai om waarskuwings op hul webtuistes te volg oor hierdie soort bedrog. Vrae begin ook al hoe meer gevra word of daar nie enkeles binne finansiële instansies is wat betrokke is by hierdie bedrog nie. * A number of local residents have been hard hit by bank and credit card fraud.
More
News
|