Baie vrae oor onderburgemeester
2010-05-27
Sieb Sieberhagen
BAIE vrae word gevra oor sogenaamde “spookkontrakte” met verkope van huise in Groenheuwel, Paarl. Dié kwessie is hierdie week op die spits gedryf toe ’n inwoner, Flip Miles, Maandag deur die balju versoek is om sy huis in Symphonystraat te verlaat. Die verkoop van dié huis en ’n Hop-huis in Smartietown wat Miles na bewering sou gekoop en weer verkoop het, het soveel vrae laat ontstaan dat ’n klag van bedrog nou teen die onderburgemeester van Drakenstein, Wilhelm Nothnagel, gelê is. Nothnagel, wat voorheen ’n eiendomsagent was, is Maandagaand in die hospitaal opgeneem met asemhalingsprobleme. Hy het in 2005 glo namens Monique Smit, sy stiefdogter, die Symponystraat-huis by Flip Miles gekoop. Wilhelm Hanekom van Hanekom Prokureurs het die verkoopsooreenkoms hanteer. Hanekom sê dat die koopprys R60 000 was. Miles voer aan dat hy nooit sy geld ontvang het nie en Smit het nooit die huis opgeëis nie. Dié huis is hierdie week, vyf jaar later, opgeëis deur Sarah Adams, die derde eienaar sedert Miles die eiendom in 2005 aan ’n ene Charles Buys sou verkoop het. Charles Buys se koop en Miles se koop van die Hop-huis by ene mnr Plaatjies in Smartietown het nooit gebeur nie. Die huurders in die Hop-huis in Smartietown wou nie uittrek nie en Miles het die koopgekanselleer. Maar intussen verklaar Hanekom aan die polisie dat Miles wel die Hop-huis verkoop het vir R50 000. Miles ontken dit en sê dat hy wel in een stadium twee huise “besit” het, maar dat hy nooit die Hop-huis gekoop het nie. Hy sê dat hy nooit geld vir die Symphonystraat huis ontvang het nie, maar wel net R20 330 van Hanekom Prokureurs op 18 Maart vanjaar. Dit het gebeur ’n paar dae nadat ’n vriend van Miles by Nothnagel wou uitvind hoekom Miles nog nie sy geld ontvang het nie. Die gemeenskap in Groenheuwel, met distriksraadslid Lilian Jantjies aan die spits, keer nou vir ’n vale dat Miles sy huis vir altyd gaan verloor.
More
News
|