DIE dienssentrum vir bejaardes by Huis Vergenoegd het in sy 27ste bestaansjaar nuwe energie wat gegenereer word in en deur die aktiewe deelname van lede. Vir oudword en kwale is daar nie meer tyd nie! Enige senior burger wat die jaargeld betaal, kan aansluit.
Met die Arts & Crafts word nuwe handvaardighede aangeleer, die skildergroep gee uiting aan hul talente, van die kenners in hul midde leer hulle meer oor interessante onderwerpe by die Huis Vergenoegd Klub, die kunsteforum ontdek die wonderwęreld van die letterkunde, teater, en die skone kunste – vir elke smaak is daar ’n heerlikheid om dit te bevredig.
Met die twee dienssentrumbussies deurkruis en verken hulle tydens uitstappies die interessanthede van die Wes-Kaap – sodoende hou hulle die gees jonk!
Oplaaipunte in Noorder- en Suider-Paarl sorg dat die uitstappies binne almal se bereik is (insluitend Groenleegte en De Oude Renbaan).
Lede kan elke middag van die week daar eet (R18 per ete, wegneemetes R20 met voorafbespreking) en Vrydae vier hulle fees met die markie en die eetgoed wat almal hierheen bring om te verkoop.
Ander dienste sluit in fiksheidsklasse, bloeddrukkliniek, haarsalon, voetekliniek, biblioteekdiens, DVD vertonings en die ondersteuning van ’n maatskaplike werker. Daar is ook interessante praatjies oor gesondheid en ander onderwerpe.
Op Dinsdag 8 Junie besoek hulle die wynlandgoed Vrede en Lust in Simondium. Op Donderdag 22 Julie is die Canal Walk Winkelsentrum aan die beurt vir inkopies of ’n lekker fliek. Donderdag 19 Augustus word fabriekswinkels ontdek te Access Park, Kenilworth en op 2 September is Tulbagh aan die beurt.
Lidmaatskap wissel (volgens inkomste) van R30 tot R60 per jaar met bybetaling vir uitstappies.
Navrae by Chrissie Truter (tel 021-870-3301).