Sokkergees hoog maar vlae pla
2010-05-27
Anne Kruger
INWONERS van die Paarlvallei raak al hoe meer opgewonde oor die Węreldbeker, en daar word al hoe meer vlae, geel sokkertruie en diskidanse gesien. Maar die Wellingtonners is smoorkwaad. Hulle kan glad nie verstaan hoekom daar Węreldbeker-baniere op hul strate wapper, waarop “Paarl” staan nie. Daar word selfs gepraat van petisies, omdat dié dorp so “misken” word deur die Munisipaliteit. “Is Wellington dan nie ook deel van Drakenstein Munisipaliteit nie? Betaal Wellingtonners dan nie ook getrou hul belastings nie?” word gevra. Die verskaffer van die vlae, oudburgemeester Herman Bailey (self ’n inwoner van Wellington), sę hy moes die opdragte van die Burgemeesterskomitee volg. Die petalje het twee jaar gelede al begin, toe Drakenstein Munisipaliteit duur glansboeke laat druk het getitel “Drakenstein 2010” om die Paarlvallei te bemark aan besoekende sokkerspanne, in die hoop om ’n span na die streek te lok. Nadat deskundiges egter daarop gewys het dat Drakenstein nęrens op ’n landkaart verskyn nie, is die boeke ten duurste herdruk, met die titel “Paarl 2010”. Daarna is alle bemarkingsmateriaal, insluitende die vlae, gedruk met die woorde “Paarl 2010”. En nou sit Drakenstein se kleiner dorpe (Wellington, Gouda en Saron) met Paarl-vlae in hul strate. En die munisipale sokkerorganiseerders (pas terug van ’n uitstappie na Nederland) is nou uiters gewild. Een ligpunt is dat hulle darem nou ’n sokker-kykplek vir inwoners voorberei by Boland-krieketstadion in die Paarl. Daar sal Bafana-ondersteuners kan sokker kyk en kuier tot laat aand (sien bl 2). Of die Wellingtonners hulle by die Paarliete gaan skaar, sal maar gesien moet word. Daar is ook kommer dat amptelike akkreditasie vir die kykpunt nie van Fifa gekry is nie. Volgens die Munisipaliteit is akkreditasie nie nodig vir ’n gratis kykpunt nie, maar Fifa-regulasies vereis akkreditasie vir enige publieke kykpunt. * Wellington residents are up in arms over the “Paarl” soccer banners in their town.
More
News
|