DIE produksie Oupa en Ouma sit op die stoep is op Vrydag 28 Mei om 20:00 by die Ou Meul-teater.
Ná die landwye sukses van die eerste Oupa en Ouma sit op die Stoep produksie is die ou getroudes Stanley en Debora Vermeulen nog lank nie klaar nie, nou raak hul ’n slag romanties!
Hulle is meer as 40 jaar getroud en alhoewel hulle soms wonder hoekom; is hul gunsteling-tydverdryf steeds mekaar.
Hulle stry oor nietighede wat so kenmerkend van ou getroudes is. Sy maak sy sinne klaar en hý maak die GPS se sinne klaar.
Saterdae skree hy nie vir die Bokke nie, maar op die skeidsregter en sy draai gedweë die volume af.
Sy wil nou en dan hoor sy’s die mooiste vrou in die wêreld en hy weier om te erken hy word dalk bietjie doof.
Sy wil dans, hy wil skud. Sy hou van skinder, skielik hoor hy glad nie.
Maar as die son begin sak, hulle die kombersie oor die knieë trek en hul in stilte wag vir die krieke om te begin sing, wil hulle nêrens anders wees nie.
Kom lag lekker saam met Oupa en Ouma, gespeel deur Johan en Lida Botha. Die teks en regie is deur Leon Kruger.
Kaartjies is R70 per persoon en kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of vstemm et@gmail.com.