DIE kultuurorganisasie Kairos in die Paarl stel eersdaags ’n terapeutiese skryfprojek vir mishandelde vroue wat woonagtig is in die Kaapse Wynlanddistrik munisipaliteit bekend. Dit is al oor en oor bewys dat baie mense in pynlike situasies verkeer en niemand het om mee te praat nie, of te bang is om iemand te vertrou. Ander loop vir jare met hul seer en weet nie hoe om dit te verwerk nie.
Die skrywer Petro Rhode is die fasiliteerder en aanbieder van die skryfsessies en beplan om met groepe van tien vroue te werk, wat oor ’n tydperk van drie maande bymekaarkom. Daarna word weer met ’n nuwe groep vroue begin.
Fiona Brophy, ’n geregistreerde maatskaplike werker gaan ook ’n sessie met elke groep aanbied.
Die skryfprojek gaan help om vroue te bemagtig deur aan hulle ’n stem te gee.
Die skryfprojek begin op 19 Junie by die Drakenstein Biblioteek.
Daar word beoog om ’n boek met die vroue se verhale saam te stel . ’n Ooreenkoms is reeds met die Kunstekaap (Artscape) gesluit wat die bemarking en bekendstelling van die boek gaan behartig.
Die bekendstelling gaan plaasvind vanaf 2 tot 8 Augustus tydens Kunstekaap se Nasionale Vrouedagvieringe.
Daar is verskillende tipe mishandelings soos fisieke- , seksuele-, emosionele-, verbale-, finansiële mishandeling, asook isolasie. Kairos wil dus graag alle vroue in sulke situasies uitnooi om aan hierdie skryfprojek deel te neem.
Van die deelnemers word gevra om in ’n paar sinne neer te skryf waarom hulle graag aan die projek sou wou deelneem en hul briefies aan Petro te stuur by plmrhode@yahoo.com of aan Kairos Kuns en Kultuur Prod., Eilandstraat 5, Paarl, 7640.
Vir meer inligting oor die Terapeutiese skryfprojek, kontak gerus vir Petro by 076-304-9627 of 021-872-3240 (na-ure).