Dak-diewe vas
2010-06-04
Lise Beyers
DIE Paarl polisie het vandeesweek ’n goeie slag geslaan toe hulle ’n bende ‘dak-diewe’ in die middedorp vasgetrek het. Vroeg Maandagoggend het drie mans toegang gekry tot die Cash Crusaders pandjieswinkel in Lady Greystraat. Hulle het een van die ventilasiewiele op die dak oopgeskroef en deur die plafon geklim. Terwyl die diewe hulself aan hul buit gehelp het binne die winkel, was hulle onbewus daarvan dat ’n stil alarm by ADT sekuriteitsmaatskappy geaktiveer is, wat op hul beurt dadelik die polisie gekontak het. Hulle is blitsig na die toneel en een verdagte is betrap nadat hy teruggeklim het in die plafon om te probeer ontsnap. Nog ’n verdagte is agterna gesit en in Kasteelstraat aangekeer. En die derde verdagte het onder ’n voertuig in Lady Greystraat probeer wegkruip. Maar hy is ook vinnig uitgesnuffel. Die bestuurder van Cash Crusaders het gesê dat sowel ADT en die polisie byna dadelik op die toneel was. “As dit nie hiervoor was nie, kon die verdagtes maklik ontsnap het. Hulle het sommer vinnig die diewe vasgevat. “Ek sê vir hulle baie dankie vir hulle ongelooflike diens.” Verdere ondersoek sal nou voortgesit word om vas te stel of die verdagtes, wat afkomstig is van Ruiterwacht, Goodwood, verbind kan word met soortgelyke inbrake in die Skiereiland. * Three men were swiftly arrested after breaking into a pawn shop in Lady Grey Street.
More
News
|