DIE raadslede van Drakenstein Munisipaliteit woon vandeesweek ’n behuisingswerkswinkel by om op hoogte te kom van die stand van behuisingsprojekte in Drakenstein.
Daar gaan veral gekyk word na die probleme soos befondsing en die tekort aan beskikbare grond wat tans ondervind word.
Die Drommedaris- en 16161 projekte (bekostigbare behuising in Groenheuwel) is voorbeelde van projekte waar probleme tans ondervind word.
Drommedaris se infrastruktuur is reeds ses maande gelede voltooi, maar bouwerk het nog nie begin nie, vermoedelik weens haakplekke met provinsiale befondsing.
Arthob Petersen, lid van die Burgemeesterskomitee oor behuising, sê dat die haakplekke nie by Drakenstein Munisipaliteit lê nie.
“Projek 16161 is ’n provinsiale projek wat deur Drakenstein bestuur word. Die planne is al goedgekeur en wanneer fondse beskikbaar word, sal dié projek begin.”
“So ook met die Drommedaris projek. Ons ondervind nie probleme met die waglys nie, maar dit is die befondsing, wat deur provinsie voorsien word, wat die oponthoud veroorsaak,” sê hy.
May Carolissen, woordvoerder van die Drakenstein Munisipaliteit, sê die doel van die werkswinkel is om die probleme te bespreek en oplossings te probeer vind.
Daar word ook beplan om na die huidige toestand van die munisipale woonstelle te kyk. Huurgeld, veiligheid en opgradering is hoog op die agenda.
* Drakenstein councillors will attend a workshop on housing, which is lagging behind.