Wellington DBV hou net-net kop bo water
2010-06-04
Lise Beyers
NOUDAT die Wellington Dierebeskermingsvereniging (DBV) hul kop net-net bo water hou, sit hulle steeds met hul hande in hul hare weens wanbetaling van die Drakenstein Munisipaliteit. Dié DBV het einde verlede jaar byna sy deure moes sluit weens ’n finansiële krisis, maar weens ’n nuwe bestuur wat aangestel is, asook ’n aggressiewe lidmaatskapwerwingsveldtog, kan hierdie vereniging uiteindelik ’n sug van verligting slaak. Maar dit beteken hoegenaamd nie dat al hul probleme iets van die verlede is nie, vertel voorsitter Anne-lida Schlemmer. Schlemmer en die res van die komitee het verlede jaar die verweerde leisels van die DBV oorgeneem en die toekoms was toe glad nie rooskleurig nie. Lede van hierdie organisasie moes ’n harde besluit neem oor hul toekoms in Wellington, en dit was amper of hulle moes weens finansiële verknorsing hul deur sluit. Maar daar is ’n eenparige besluit geneem om als in hul vermoëns te doen om die DBV aan die gang te hou, ter wille van die diere. “En nou na maande van sente omdraai en die ongelooflike hulp van die publiek en DBV lede, is die skuld waarin ons gedompel was, klaar betaal.” Maar Schlemmer se groot bekommernis nou, is die houding van die Munisipaliteit teenoor hulle. “Die breë publiek is onder die indruk dat ons enige rondloperhond van die straat af kan haal. Dit is nie binne ons mandaat nie. Die DBV is verantwoordelik vir mishandelde diere. “En so graag soos wat ons hierdie probleem sou wou oplos, is dit eintlik die plig van die munisipaliteit.” Volgens munisipale regulasies wat verband hou met troeteldiere, mag een woning slegs twee honde aanhou, en tewe moet gesteriliseer wees (hierdie reël is nie geldig vir geregistreerde hondetelers nie). En sprake van die ou lisensie beleid is daar niks nie. Die DBV is jare gelede deur die Munisipaliteit as munisipale skut aangewys. Twee munisipale amptenare wat verantwoordelik is vir rondloperdiere laai hierdie honde by die DBV af, en die Munisipaliteit is dan verantwoordelik vir die betaling van die diere se verblyf, asook die koste indien die dier uitgesit moet word. Maar sedert Februarie het hulle nog nie hul rekening vereffen nie, en hulle skuld die Wellington DBV ’n broodnodige R12 000. Dit is nie net die finansiële kwessie wat ter sprake is nie, maar volgens die DBV dra die nie-toepassing van hierdie regulasies direk by tot die oorbevolking van honde in die gebied, veral in informele woongebiede, asook op plase. Onlangs het die lelike voorval weer sy kop uitgesteek van ’n boer wat drie honde geskiet het van inwoners wat op sy plaas woon. Die boer voer aan dat die honde ’n gevaar ingehou het vir sy vee. “Dit is juis sulke situasies wat ons wil vermy. Ons kan volgens wet nie hierdie honde wegvat van hul eienaars nie, tensy ons kan bewys dat hulle mishandel is. Slegs die munisipaliteit kan optree teen oorbevolking. “Jy hoef nie ryk te wees om ’n diereliefhebber te wees nie, en ons wil veral minderbevoorregte plaaswerkers help om hul diere goed te behandel. Sodoende kan daar ook vrede tussen hulle en die boer wees.” Dus is Schlemmer vasberade om die DBV se plaas-kliniekprojek van die grond af te kry. Hierdeur kan plaaseienaars ’n kontrak met die DBV aangaan, waarna hulle arbeiders se honde sal ondersoek. Sterilisasies, inentings en ontwurming sal uitgevoer word, maar die grondeienaar sal vir die kostes verantwoordelik gehou word. “Ons het al gevalle gehad waar die grond- eienaar dan weer ’n ooreenkoms met sy arbeiders aangaan vir die terugbetaling van hierdie gelde. “Hierdie klinieke kan ongelukkig slegs uitgevoer word indien ons ’n minimum van 25 honde het. Die grondeienaar kan dus sy bure aanmoedig om ook hieraan deel te neem. “Ons sal dan by hierdie plase op ’n gereelde basis klinieke hou. Diere wat in ’n slegte toestand is, sal verwyder word.” Met hierdie plaas-klinieke kan plaaswerkers, grondeienaars en honde hopelik in vrede saamleef. * The Wellington SPCA is ready for the future, but is hampered by the non-payment of funding by the Municipality.
More
News
|