Jong susters ernstig ná brand
2010-06-04
’n JONG man het Sondagnag sy eie lewe gewaag om vier kinders vanuit ’n brandende huis te red. Dit is die drama wat afgespeel het by die opslaanhuis van die gewilde gebedsradio-omroeper, Magda Fortuin, in Suikerbekkiestraat, Amstelhof. Fortuin se twee dogters, asook twee kleinkinders, was ten tyde van die brand alleen tuis terwyl Fortuin juis saam met pastoor Graham Taff op Radio KC besig was met hul weeklikse gebedsprogram. Eers toe Fortuin by haar houtwoning in die agterplaas van ’n huis aankom, het sy die skade aanskou. Teen hierdie tyd was die huis in puin gelê en haar dogters, Bridget (14) en Natalie (18), was byna onherkenbaar verbrand. Bridget is dieselfde aand na Tygerberg Hospitaal se brandeenheid oorgeplaas, en Natalie wag nog vir ’n bed by hierdie eenheid. Sy word tans in Paarl Hospitaal behandel. Albei verkeer in ’n uiters ernstige toestand. Shuaib Fredericks, die eienaar van die erf waar die Fortuins woon, het gesê dat hy en sy gesin Sondagaand skaars ingesluimer het toe hy die noodkrete van die kinders gehoor het. “Toe ons na buite is, het die vlamme al hoog geskiet en die kinders was binne vasgekeer. “Ek het die vlamme met ’n tuinslang probeer blus, maar dit was tevergeefs.” Fredericks het vertel dat terwyl hy die vlamme probeer blus het, het ’n buurman, Dominique de Villiers, sy lewe gewaag en die vlamme aangedurf om een-vir-een die kinders na veiligheid te bring. De Villiers het tydens die reddingspoging self ’n brandwond op sy hand opgedoen. Fortuin se kleinkinders, Fallon (3) en Trevino (1), het minder ernstige brandwonde opgedoen en hulle word in die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad behandel. Hulle is Natalie se kinders. Fortuin was vandeesweek steeds te erg geskok om oor die tragiese voorval te praat, maar sy het by monde van predikersvrou, Jenny Taff, haar dank uitgespreek aan die gemeenskap wat haar familie tydens die brand gehelp het, en wat steeds vir hulle bystaan. Fortuin, ’n jarelange vriendin en Christelike werker saam met die Taffs, gaan tans tuis by dié familie. “Die Fortuin-familie het nou alles verloor, maar talle helpende hande reik uit na hulle,” het Jenny Taff gesê. “Hierdie tragiese voorval is nog net ’n bewys van die ernstige tekort aan behuising in die gebied. Magda is geskei en sy sorg vir drie dogters en drie kleinkinders op slegs ’n karige salaris. Ek kan nie glo dat die owerhede haar nie kan help nie.” Haar man, Graham, het gesê dat ’n onafhanklike fonds vir die familie gestig is deur middel van sy gemeente, die Volle Evangeliese Kerk. Diegene wat tot die fonds wil bydra, kan deposito's maak by die rekening van die gemeente (072204721) by Standard Bank Paarl (verwysing - Fortuin Fonds). * Two girls have been seriously injured in a fire.
More
News
|