Bemagtigingsforum gestig
2010-06-04
Johan Nel
’n SPLINTERNUWE besigheidsbemagtigingsforum is verlede week eenparig deur ’n groot groep entrepreneurs en beginner-sakemanne van Wellington gestig. Die forum sal aanvanklik gelei word deur ’n paneel wat uit vier Wellingtonners bestaan: Lindley Minnaar, ’n onderwyser en beginnersakeman, Wendel Lawrence, bekende sakeman en besigheids kon sultant, Andelin Meyer ’n senior bankamptenaar op die dorp, en dr Thys Smith wat die idee van so ’n forum oorspronklik geïnisieer het. Lindley Minnaar het gesê dat die nuwe forum gegroei het uit die oortuiging dat nuwelinge in die sakewêreld weens ’n gebrek aan sakekennis, onnodig klei trap en foute maak. “Beginner-sakemanne moet van vroeg af geleer word om ’n volledige opname te maak van presies wat hulle goed kan doen en veral ook van wat hulle nie kan doen nie. Die besigheidsbemagtingsforum gaan daarom poog om hulle te help om hul kennis op die regte manier aangevul te kry.” Volgens Wendell Lawrence moet voornemende sakemanne besef dat die sekuriteit wat ’n salaris met byvoordele bied ’n tronk kan wees vir mense wat droom om met ’n eie besigheid te begin. “Jy moet bereid wees om uit te breek, op jou eie voete te staan en self planne te maak om die hindernisse te oorwin wat op jou pad na ’n eie onderneming lê.” Andelin Meyer het voornemende sakemanne aangeraai om, selfs voor hulle met ’n eie besigheid begin, deur ’n persoonlike bankrekening te begin om ’n goeie kredietrekord by hul banke op te bou. Daar is ook op die stigtingsvergadering van die forum besluit dat ’n verteenwoordiger van die Drakenstein Munisipaliteit na die volgende vergadering in Julie genooi sal word om lede in te lig oor die geleenthede en ondersteuning wat die munisipaliteit aan werkloses bied. Die bedoeling van die nuwe forum is om sakekundigheid gratis aan alle beginner-sakemanne en -vroue oor te dra. Belangstellendes kan meer inligting oor die werksaamhede van die forum kry deur dr Thys Smith by 083-661-8363 te skakel.
More
News
|