Rose delf onverwags die onderspit
2010-06-04
ROSES UNITED het Saterdag teen alle verwagtinge vasgeval teen Black Leaves van Gansbaai, op die CPUT-velde in Wellington. Roses het dié wedstryd op indrukwekkende wyse begin en gou ’n voorsprong van 15-3 opgebou. Kort voor rustyd het Black Leaves egter teruggeslaan met ’n verdoelde drie. Ná rustyd het Leaves twee keer gaan druk en ook ’n doel- en strafskop bygevoeg. Vir die Rose het Gerhard Goosen en Hyco Jacobs voorlangs goed vertoon, met Brendan April agterlangs die groot uitblinker. Die Rose se stelskoppers het ongelukkig nie Saterdag hul kant gebring nie, met talle verbroude pogings na die pale. Vir die Rose het Brendan April, Mane Adams, Gerhard Goosen en Riaan Williams drieë gedruk. Percival Williams was suksesvol met een strafskop. Die Rose het twee bonuspunte verdien uit die wedstryd. Eerskomende Saterdag pak die Rose vir Wesbank op laasgenoende se tuisveld. Roses sukkel met beserings aan sleutelspelers, soos Shane Jacobs, Randall Hefca en Harold Stewardt. Die bus na Wesbank vertrek Saterdag 11:30 van Klaasenstraat, Wellington. Saterdagaand hou Roses ’n geselligheid by Club 30 Plus Jazz Pub vanaf 20:00 (R10 pp).
More
News
|