Paarl kry eerste loesing
2010-06-04
DIE Paarl Rugbyklub het Vrydagaand op die Faurestraat-stadion met 5-16 verloor teen Brackenfell, maar dit is dalk meer korrek om te sê dat die Paarliete Vrydag teen hulself verloor het. ’n Paarl-span wat voor die naweek se wedstryd nog nie vanjaar aan die verloorkant was nie, maar wat tans gebuk gaan onder talle beserings, kon egter net so wel dié wedstryd gewen het. Ondanks talle foute was Paarl rustyd met 5-3 voor ná ’n drie deur die Clive Samuel. In die tweede helfte het Paarl vir Brackenfell in hul kwartgebied vasgepen, maar kon net nie punte aanteken nie. Hierteenoor het Brackenfell elke keer punte aangeteken sodra hulle in trefafstand was. Sodoende was Brackenfell kort voor die einde 9-5 voor. Reg teen die einde het Paarl weer verwoed aangeval, maar Brackenfell se senter het ’n onoordeelkundige oorslaan-aangee van ’n Paarl-speler onderskep en deurgenael om te verseker dat Paarl getroef word. Vir Paarl het Franco Carricato (skrumskakel) soos ’n tier verdedig. Paarl se o.20-span het vir Villagers tydens ’n rugbydag by Parow met 25-20 getroef. Paarl speel eerskomende naweek weg teen Goodwood.
More
News
|