Monument vir rebelle ingewy
2005-09-22
MEER as 300 mense het Saterdagoggend die inwyding van die Anglo-Boereoorlog Monument ter ere van die Kaapse rebelle op die plaas Laborie in Suider-Paarl bygewoon.
Die funksie het saamgeval met die jaarvergadering van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, wat vir die eerste keer plaaslik aangebied is.
Onder die eregaste was Siyabonga Jabavu, agter-agterkleinseun van die Oos-Kaapse koerantredakteur John Jabavu, wat vervolg is vir sy redaksionele kritiek op die Britse koloniale regering tydens die oorlog. Sy koerant, Imvo Zabantsundu, is ook tydelik gesluit.
Tydens die verrigtinge het burgemeester Herman Bailey aangekondig dat die monument deel sal word van die Drakensteinse erfenisroete wat die Madiba-huis by Drakenstein-gevangenis, die helde-akker by die Parys-begraafplaas, die blokhuis op Wellington en die beoogde De Poort opelugmuseum in Suider-Paarl sal insluit.
Die monument is opgerig op ’n granietknoets omring met olyfbome teen die hang van Paarlberg agter die historiese plaaswoning op Laborie waar Paul Kruger onder meer onthaal is.
Dit is naby die plek waar die eikebos-kampeerterrein vroeër jare gestaan het en waar twee massavergaderings tydens die Anglo-Boereoorlog gehou is om beswaar te maak teen die optrede van die koloniale regering teen die republieke van Transvaal en Vrystaat.
Volgens verslae was byna 2000 vroue teenwoordig onder leiding van die bekende Kapenaar Maria Koopmans de Wet om te protesteer teen die anneksasie van die Boererepublieke, die verskroeide-aarde-beleid, die konsentrasiekampe en die wegvoer van bannelinge.
Altesame 16 750 handtekeninge is ingesamel en ’n petisie teen die Britse oorlogspoging is aan koningin Victoria gestuur.
Die monument is opgerig met fondse wat Paul de Villiers van Stellenbosch in 1951 in sy testament bemaak het vir die oprigting van ’n Anglo-Boereoorlogmonument met die 100-jarige herdenking van die oorlog.
Hy was die laaste tesourier-generaal van die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal).
Sy moeder, Theophilia de Villiers (’n dogter van ds GWA van der Lingen van die Paarl), was die voorsitster van een van die massa-vrouebetogings op Laborie.
Die kunstenaar Johan Moolman van Groot Marico, voormalige dosent in die Beelhoukuns, het brons reliëfpanele ontwerp wat gebeure uit die oorlog uitbeeld, wat in die rotse geplaas is tussen twee menslike rebellefigure (man en vrou).
Die name van dorpe waar daar rebelle was, is in die sirkel van granietstene rondom die monument aangebring.
Die monument is simbolies inklusief van almal wat die Boeremagte direk en indirek in hul stryd gesteun het. Daar is ’n serwituut geregistreer wat verseker dat die publiek toegang tot die monument het.
* A monument to the Cape rebels who sided with the Boer republics during the Anglo Boer War, was inaugurated in Paarl South.
More
News
|