Bedrogsaak dalk teruggetrek teen Paarlse 'konsultant'
2010-06-10
Liezl Dyson
UITSPRAAK sal vandag in die Paarlse Streekhof gelewer word of die bedrogsaak teen Marthinus Gouws teruggetrek gaan word of nie. Gouws, ’n Paarliet, word daarvan beskuldig dat hy aan die moeder van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak (Sarah van Wyk) voorgegee het dat hy ’n ooreenkoms met advokaat Deon van Rooyen het, waarvolgens hy as “agent” vir Van Rooyen optree. Gouws ontken skuld. Gouws, van “Gouws & Gouws Konsultante”, is R11 050 deur die moeder van die beskuldigde betaal om ’n regspan bymekaar te kry wat haar seun sou verdedig in sy moordsaak. Dit sluit in R350 as Gouws se konsultasiefooi, R700 vir ’n prokureur en R10 000 vir die advokaat. Clyde Meyer, Gouws se prokureur, het Maandag versoek dat sy kliënt ontslaan word: “As die klaers hul geld wil terug hê is dit ’n siviele aangeleentheid en nie ’n kriminele saak nie,” het Meyer gesê. Staatsaanklaer Enslin Orange het egter die aansoek teengestaan. Hy het aan die hof voorgehou dat die klaers nie van Van Rooyen sou geweet het as Gouws hulle nie van hom vertel het nie. “Hy het baie seker voorgekom dat hy en Van Rooyen ’n ooreenkoms het en dat hy namens Van Rooyen optree. Ek gaan aanvoer dat daar ’n wanvoorstelling was dat hy namens Van Rooyen optree en dat Van Rooyen R10 000 vra. Alle elemente van bedrog is teenwoordig,” het Orange gesê. Streeklanddros Nonawethu Smile sal vandag uitspraak lewer oor die aansoek om ontslag.
More
News
|