Boerboel twee keer geskiet in eie erf
2010-06-10
Lise Beyers
DAAR is onmin tussen bure in Noorder-Paarl, nadat ’n buurman na bewering ’n boerboel twee keer geskiet het binne-in die erf waar die hond woon. Die eienaar van die hond, Marlize du Toit, is nou raadop met hierdie lafhartige dade. “Ons het Sheila geërf by my broer wat na Johannesburg verhuis het. Sy is ’n baie liefdevolle hond en is soos ’n kind in die huis. “My dogters is heeldag by haar en sy is baie saggeaard.” Maar, vertel Du Toit, om een of ander rede het hul buurman sy mes in vir Sheila. Hy tart glo dikwels die hond uit en dan raak sy rasend. Selfs met Paarl Post se aankoms by die Du Toit-woning in Michaelstraat, Noorder-Paarl, het Sheila nie eens ’n knor geuiter nie. “Drie weke gelede was my ma alleen tuis, toe sy ’n skoot hoor klap. Sy is na buite en het bloed uit Sheila se wang sien stroom. Ons het vasgestel dat sy met ’n windbuks geskiet is. “En verlede Maandag was dit die laaste strooi, toe nog ’n skoot geklap het. Sy het hard getjank en toe my ma gaan kyk wat fout is, het bloed uit Sheila se neus en mond geloop. Sy is in die neus geskiet.” Die buurman is gekonfronteer en het beweer dat hy nie by die huis was ten tyde van die voorval nie. Maar hy het wel gesê dat die hond hom pla. “Dit kon net hy wees wat vir Sheila geskiet het. Niemand anders kon daar kom nie.” Ander bure het gesê dat die hond geen probleem is nie. Die hond blaf glo net wanneer die buurman haar treiter. Du Toit het beide ’n klag van dieremishandeling en saakbeskadiging gemaak by die DBV en die Paarl polisie. * A family pet has been shot twice with a pellet gun.
More
News
|